top of page
  • Uitmelkbos

VIR JOU, VIR KERSFEES

Op een van my seldsame bedevaarte na ‘n groot, indrukwekkende en uiters bedrywige inkopiesentrum ontdek ek, taamlik verras, dis klaar Kersfees in die winkels. Krismis. Oral waar jy kyk, is boompies, blinkpapier, geskenkidees en Bing Crosby se “I’m dreaming of a white Christmas”.

My sakboekie verklap dis nog maar die tweede week in November – nog meer as 40 “koopdae” voor die groot dag. Maar die dolle geskenke-jag begin elke jaar vroeër, lyk my. ‘n Vlugtige opname van die aanbod dui ook op ‘n prys-spiraal wat soos die lopietempo in ‘n 20-20-krieketwedstryd opwaarts vuurpyl.

Hoe duurder die geskenk, des te spoggerig voel die gewer seker. Maar is ‘n duurder geskenk noodwendig ‘n geskenk wat meer waardeer word, wonder ek.

Elke jaar na Kersfees wemel dit in ons Melkbosse advertensieblaadjie immers van “unwanted gifts” wat teen aanloklike weggeepryse aangebied word – sommige nogal heel eksoties, en waarskynlik met liefde en sorg uitgesoek.

Party ouens het duidelik ‘n bietjie kontant nodiger as ‘n duur ding wat dalk mooier as nuttig is.

Maar sê nou maar die gewer herken die ontvanger uit die gegewens in die advertensie? Ek kan dink dat so iets nogal diep kan kneus.

Kneusinge vir gewers van geskenke kom op allerlei vreemde maniere. Vir skrywers kom dit dikwels in die vorm van n ontdekking op die rak van ‘n tweedehandse boekwinkel, vertel Joan Hambidge nou die dag in “Rapport” se tydskrif.

Syself het al die ontnugtering gesmaak om op die winkelrak ‘n digbundel aan te tref wat sy aan n jong Johannesburgse digter geskenk het. Toe sy hom daaroor konfronteer, het hy geldnood gepleit.

Joan vertel vele mooi stories in haar rubriek oor “Geskenke” in daardie “Rapport”. Vir die volgende anekdote leen ek sommer ook haar heerlike vertelling in aanhalingstekens:

“Toe dink ek aan die ergste oomblik vir enige skrywer denkbaar. ‘n Digter stap in ‘n ander Johannesburgse boekwinkel in en ontdek sy bundel opgedra aan die eks-geliefde, met ‘n spesiale inskripsie aan haar, op ‘n rak vol ou digbundels.

“Die bundel, n besinging van hul liefde en verhouding, met haar as die ewig aangesprokene, weggegee.”

“Sy is die aangesprokene in sowel die vers as die klein opdrag: Vir jou, met dank en waardering.

“ Die jy in die gedig is die jy in die opdrag!

“Dus dubbele verraad.”

Gelukkig is my Tokkieversies te min (en te dof) vir bundeling. Daardie tipe kneusing spring ek dus vry.

Maar hier’s darem enetjie vir die proe:

Kersie, granaat of ryp waatlemoen,

Rooi bly ‘n kleur wat iets aan my doen;

Tooi jou in rooi, my rooibloedvrou,

Om my vir altyd aan jou voete te hou.

Miskien moet ek vir haar vir Kersfees tog maar weer iets roois koop.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page