top of page
Uitmelkbos

VIR JOU EIE VEILIGHEID

Pas op vir kinders. By die Fonteine, buite Pretoria, was hierdie kennisgewing vir ons Tukkies van die laat 50’s altyd ‘n bron van verkneukeling.

Ons kon raai die bedoeling was: ry versigtig dat jy nie ‘n spelende kind tref nie. Diaboliese studente-gedagtes het die waarskuwing gekoppel aan die amoreuse aktiwiteite van jong verliefdes wat in die donker (soms selfs in die lig) onder die bome privaatheid kom opsoek het.

Naby die Zwartkops-lughawe op die ou Johannesburg-pad was daardie tyd ‘n kennisgewing: Pas op vir vliegtuie. Ek het altyd gewonder hoe trap jy in jou spoor vir ‘n vegvliegtuig van die SA Lugmag wat teen mach1 uit die bloue hemel op jou motor neerswiep.

Naby Skukuza is Wildtuingangers vermaan: Pas op vir olifante. Ook maar ‘n brae vae opdrag. Hoe ontsnap jy die wrewel van ‘n bronstige bul as sy liefdesavontuurtjie pas deur toeriste met klikkende kameras kortgeknip is?

Desember staan ons koppe Sabiepark toe. Ons kry ons huidige “Bosbus”, die ou Honda, op O.R. Tambo. Op die skof Nelspruit toe ry jy in Witbank se omgewing by meer as een “hijack hot spot” verby. Hoe nuttig daardie inligting is dat kapers graag in daardie omgewing uithang, weet ek nie. As jou motor die nuk kry om presies op daardie kol te stol, sal hy stol – dreigende gevaar of te not.

Maar ten minste weet jy dit is nie die aangewese plek om vrywillig stil te hou vir ‘n toebroodjie en koffie of om bestuurders om te ruil nie!

Gelukkig is ek op die drumpel van 70. Die mylpaal wink op 3 Januarie 2011. ‘n Gerusstellende e-pos oor die plusse van gevorderde jare meld dat kapers min erg aan ou mense het. Trouens, as jy die ongelukkie sou oorkom om in ‘n groep as gyselaar aangehou te word, kan ‘n gryse daarop reken om van die eerste te wees wat vrygelaat word – met of sonder losprys.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page