As ‘n hoender-dinges-sosatie koddig klink (vorige blog), wat van kobravleis? Baie Chinese glo as ‘n lekkerny het ‘n kobra-happie nie sy gelyke nie.
Vir geurige slanggeregte kan Hua Hsistraat in Taipei aanbeveel word. In die woelige smal stegie sit die slang-restaurante ingeryg soos kraampies by ‘n kerkbasaar. Die foto hierbo is van die uwe by een van die gunsteling-eetplekke in Snake Alley in die middel van die 80’s.
Snake Alley (of slangsteeg) word vir meer as net gastronomiese redes besoek. Slange se medisinale eienskappe is in die ou tradisionele Chinese volksoorleweringe hoog aangeslaan. Dit word steeds vir ‘n verskeidenheid van fisieke en fisiologiese behoeftes as die ware jakob geag.
Sterk aanbeveel, is slangsop vir ‘n mooi vel, slangbloed vir viriliteit, slanggal vir die oë, slangmurg vir rumatiek en slangvleis – op verskillende maniere gaargemaak – vir algemene gesondheid.
Omdat die die omgewing ook bekend is weens die aktiwiteite van gelisensieerde
prostitute, verkoop slangbloed in Hua Hsistraat soos soetkoek. Met ‘n verfrissende opkikkertjie van vars slangbloed agter die blad, is ‘n man glo gereed vir ernstiger speletjies as slangetjies en leertjies!
Laat my dadelik verklaar dat ek Hua Hsistraat nie besoek het weens ‘n avontuurlike drang na rare spyskaarte of vir betaalde geselskap nie. Nee, dis pure nuuuskierigheid wat my getrek het. Daardie nuuskierigheid is gou beloon.
Oral in die stegie sien jy slange, opgestop of onheilspellend lewend, wat dadelik verraai wat die buurt se kulinere spesialiteit is. Maar ek is toe ook net mooi betyds vir ‘n slang-seremonie, wat ‘n fris skaretjie plaaslike inwoners gelok het. Vir die Westerling – oningewyd in die Chinese kookkuns en volksmedisyne – is dit egter nogal uitdagend vir die beheer oor die peristaltiese bewegings van jou spysverteringstelsel.
Eers is ‘n verwilderde apie ‘n paar slukke slangbloed gevoer en in ‘n hok vol kobras geprop om te bewys hoe ‘n kapabele afweermiddel dit is om allerlei onheile weg te hou. Oorleef die apie dit, is dit goeie reklame. Is hy minder gelukkig, word die lewelose aap-liggaampie vinnig met ‘n nuwe proefkonyn vervang.
Vervolgens word, onder luid musiek en gejil, ‘n krullende kobra aan sy bek opgehang en behendig met ‘n mes oopgekloof. Die fris straal bloed uit die vetlyf word in ‘n bottel opgevang, met ‘n ander vreemde vloeistof gemeng en dan te koop aangebied.
Aan kopers ontbreek dit nie. Jonk en oud staan nader, geldjie in die hand, en die bottel word soos ‘n Nagmaalsbeker van die een na die ander aangegee. Een oubaas (dalk nog ‘n giftige vryer?) haal selfs nog ‘n paar verkreukelde note te voorskyn vir ‘n ekstra enetjie vir die pad.
As jy dink dat alles verby is, word so ‘n donker, jellierige ding uit die dooi slang gegrawe – die galblaas. Die produk word entoesiasties by diegene met oogprobleme opgevysel. Niemand koop egter nie.
Uiteindelik verdwyn die verwerpte stuk binnegoed met die ander oorblyfsels van die slang in die kombuis om “heilsame” sop en bredie te word.
‘n Vreemde aroma is juis uit daardie rigting aan’t aansweef – en skielik is hoender-dinges-sosaties nie meer vir jou so ‘n afstootlike gedagte nie.
Comments