VERWARRINGTON, VERWARRINGTON
Hoe so iets op aarde moontlik is, is – soos my kollega Johan van Wyk jare gelede in sy rubriek Stop van Myne in Die Volksblad geskryf het – bo my denkscala. Feit is egter dat ek op 7 September 2007 binne twee minute twee spoedboetes by Warrenton op die lyf geloop het.
Om 09:15 het ek volgens die dorp se spoedkamera in ‘n 60-sone tussen 71 en 74 kilometer per uur gery. Om 09:17 het ek die petrol ietwat dieper getrap. My snelheid was toe tussen 95 en 99, steeds in ‘n 60-sone. Vir die eerste oortreding kry ek toe n boete van R150 en vir die tweede een van R600.
Daarmee begin ‘n onheuglike geskiedenis van heen-en-weer eis en ekskuus vra, dreig en verduidelik, baklei en terugbaklei. Hopelik is die einde van die sage nou in sig, maar ‘n mens moenie te gou gerus raak nie. Dit het die lewe my ook al geleer. En by die Magareng-munisipaliteit – dis nou Warrenton en omstreke – staan die verwarring klaarblyklik blou in die blom.
Verwarrington, o Verwarrington!
By terugskoue het my moeilikheid met Magareng se mense begin met ‘n hoflike briefie wat ek op 30 September 2007 aan die verkeersowerheid van daardie vaal Noord-Kaaplandse dorpie gerig het.
Daarin verduidelik ek dat my status as vreemdeling in daardie geweste wat klaarblyklik so op die gehawende pad gekonsentreer het dat ek die 60-bordjie skoon misgekyk het. Ek verneem beleefd of die twee boetes binne twee minute nie neerkom op twee boetes vir een oortreding nie. Ek betuig in elk geval my apologie vir die wetsoortreding en bied ‘n bedrag van R300 aan, wat ek terstond per internet oorbetaal.
Nou moet gemeld word dat elkeen van daardie twee oortredings sy eie 18-syfer verwysingsnommer het. Dit het ek bo-aan my brief in vet swart letters neergepen, maar weens ‘n gebrek aan ruimte op die internet-staat tot die eerste verwysingsnommer moes reduseer.
Later gaan kyk ek op die viewfines-webwerf op die internet, en bemerk dat die R150-boete as betaald aangedui word, maar die lelike meneer van R600 steeds volledig vir my staan en grynslag. Kort daarna kom ‘n kennisgewing dat my vertoë van die hand gewys is. Ek skuld R600 en basta. Dit moet ek ook maar liewer gouer as later opdok om ernstiger optrede vry te spring.
In hierdie stadium begin ek die byna onbegonne taak om telefonies te probeer bepaal wat dan van die ekstra R150 geword het wat ek in Magareng se koffers gestort het. Volgens my berekening skuld ek immers nog net R450. Nieman kan verslag doen nie.
Nog ‘n dreigender kennisgewing daag intussen op en op 21 Junie 2008 besluit ek in ‘n vlaag van wetsgehoorsaamheid (en vrees vir inhegtenisneming!) om maar die orige R450 ook op te dok. Ek doen dit en laat weet daarop dat my verpligtinge, volgens my lesing van die saak, nou ten volle nagekom is.
Moet egter nie Magareng (Verwarrington) se administrasie in sake van hierdie aard oorskat nie. Die volgende wat ek hoor, is ‘n oproep van ene Sale wat my in ‘n grafstem meedeel dat ek nog die volle R600 skuld. Met stygende opgewondenheid deel ek hom mee dat ek twee betalings van R300 en R450 elk gedoen het waarvan ek met die bewyse in my hand sit.
Faks dit, versoek hy. Ek maak so, raadpleeg na ‘n ruk weer viewfines en sien tot my allerverligting albei boetes word nou as betaald aangedui. Hoera!
Toe op 30 September pasede bel ene Veronica. Sy soek die R600. My draad begin nou kort raak, maar ek verduidelik nietemin weer omslagtig. Sy vereis weer ‘n faks en verskaf ‘n ander nommer as die ene waarheen ek voorheen vir Sale se aandag my papiere gestuur het.
Ek probeer dieselfde dag faks, om 15:16, 15:19, 15:20, 15:22, 16:23, 18,20 en 19:27, en toe weer die volgende dag, om 05:58, 06:00, 06:57, 07:31, 08:20 en 08:21. Elk keer maak die faks net sulke eienaardige knorgeluide en weier botweg om my papiere te sluk.
Om 08:23 gooi ek handdoek in met die fakspoging en wend my opnuut tot die telefoon as moontlike redder uit die gemors. Hierdie keer praat ek met ene Leonie. In ‘n gesprek van 15 minute en 46 sekondes verduidelik ek die soveelste keer my storie, verneem die droewe nuus dat die fakslyne oorlaai is en word, op my versoek, ‘n posadres verskaf waarheen ek afskrifte kan stuur.
Leonie het vir my geklink of sy die drade gaan vasvat. Maar teen vanoggend (21 Oktober) het die geregistreerde brief al 18 dae onafgehaal in Warrrenton se poskantoor gelê. En dit is nie of Magareng-verkeer nie daarvan weet nie. Ek het hulle persoonlik daaroor ingelig.
Nou kan u, liewe leser, seker met reg verneem hoe ek dan die tye van my fakspogings so kan afrits. Die antwoord is maklik. Voor my lê my telefoonrekening. Elke knor van die fakslyn het rondom 60c uit my sak gejaag. (Die oproep van 15 minute en 46 sekondes het terloops R14, 82 gekos … en die geregistreerde brief nog R14,40)
Twee spoedboetes binne twee minute, dan soveel moeite en misverstand en dan boonop so ‘n gesukkel met ‘n oorlaaide fakslyn, onvoortreflike administrasie en onnodige koste – dis werklik erg vir vlees en bloed.
Die foto hierbo is nie van Magarengse oorsprong nie. Daardie oortreding was by Swellendam – wat ongelukkig bewys dat hierdie ou maar sukkel om in 60-sones so wetsgehoorsaam te wees soos hy graag wil.
Trouens, soveel kere moes ek al vir soortgelyke vergrype opdok, dat ek in ‘n stadium, na ‘n oortreding in die Kerstyd by Blue Downs, aan die verkeersafdeling van Kaapstad n spesiale “feesversie” gestuur het om om genade te pleit.
So lui die versie:
Terwyl ek rustig, binne perke, rits,
Kom ‘n ieder snel verbygeflits;
Terwyl ek wetsgehoorsaam ry,
Blits sware lorries woerts verby;
Nou’s Kiepie al weer swaar beboet
(Is 82 dan so ‘n verwoede spoed?) –
Ek pleit net vir regverdigheid;
Hef a heart; skeld my tog kwyt!
Nou-ja, kwytgeskeld is ek nie, maar die boete is darem ‘n fraksie kleiner gemaak.
Dankie tog vir klein ligstraaltjies. (HvD)
Comments