top of page
  • Uitmelkbos

Verstaan jy?

Ek gryp graag vandag terug, liewe broeders en susters, na ’n teksvers uit die verre verlede. Die van julle wat by is, sal weet dit kom uit André P. Brink se Houd-den-Bek: “Om te weet, is nie genoeg nie. ’n Mens moet verstaan ook.” Mal oor daai aanhaling. Jy kan sê dis my lewensmotto.

Dié antieke woorde lui sommer baie klokkies, nè? Nou verstaan jy hoekom Amoré Bekker, wanneer sy op Radio Sonder Mense met die veldfilosoof Antoinette Pienaar gesels, aanmekaar laat waai met “Verstaan jy?”

Vroeër in die week stuur iemand vir my ’n whatsappie van André Rieu wat iewers in die Lae Lande konsert hou en die ou Amerikaanse volksliedjie “Ellie Rhee” speel. Waaop ’n klompie siele in die gehoor opstaan en begin “Sarie Marais” saamsing. Afrikaner-diaspora, verstaan jy? Rieu glimlag só breed ’n mens sou sweer hy het ’n gelukkie gehad met ’n scratchcard by die Spar in Danville.

Aldus gelouter gee ek my toe die dag ná ek alweer nie die Powerball gewen het nie oor aan my daaglikse seratonin-oesery. Ek lees die kommentare onderaan Netwerk24 se berigte. Julle moet weet, ek kom uit ’n huis waarin die stryd teen sensuur in die jare toet woes was. Ek het as ’t ware op vadersknieg en aan moedersborste geleer dat mens aan ander die vryheid moet gun om vir hulself te dink. My pa het my op sy voet laat perdjie ry terwyl hy my vertel van die Minister van Sensuur wat soveel spanning oor onse mense se morele ondergang moes verduur dat hy sy Kaapse masseuse, Juffrou Marié, op een van die sensuurraad se filmpanele aangestel het.

Wag, ek digress. Ek wou julle vertel wat ek weet, en wat ek verstaan. Aan die hand van Netwerk24 se leserskommentare. En waar is ’n beter aanknopingspunt as by die boek-resensies?

Julle is almal skrander lesers, en sal snap dat my skryfstrategie is om nie weer snedige kommentaar uit te lok oor hoe ek perv elke keer wanneer Jean Meiring gees vang oor ’n boek nie. (Natuurlik gebruik ek my prerogatief as modereerder van die kommentare by hierdie blog om al daardie snedige kommentaar te smoor. Ek is ’n sensitiewe mens.)

Anyway ek het sommer baie stof tot nadenke gehad nadat ek drie weke in die Waterberge die bosveld verinnerlik het. Baie resensies wat by my tuiskoms op my lê en wag het. Twee deur Jean Meiring! Ek hoor wat hy sê oor Frederik de Jager se Man op ’n fiets êrens heen. Mens kry sommer weer moed vir die lewe. Met groot skok sien ek egter, soveel weke later, dat geeneen van Netwerk24 se lesers kommentaar gelewer het nie.

Dieselfde lot val Neil van Heerden te beurt wanneer hy François Bloemhof se Die duiwel maak my hart so seer aan die Afrikaanse leespubliek bekendstel. Ditto Ronelle Simmons se bespreking van Carla van der Spuy se Gangster. En Jean Meiring s’n van Dinge van ’n hond, die nuutjie van SP Benjamin. Trisa Hugo se rapport oor Mariël le Roux se Mieke word ook net ’n groot ignore gekap.

Binne die groter Netwerk24-paradigma is dit très weird.

Daar is darem een ligstraaltjie. Trisa Hugo lewer kommentaar onderaan J.B. Roux se warreling oor Erla Diedericks se “anderste roman”, Dominique. “Lekker, Erla! Ek sien uit om te lees.”

Ek het sommer vir die argument gaan kyk na ’n berig oor ’n kommissie van ondersoek se bevinding dat Jeremy van die Elsies onmiddelik geskors moet word. Sommer baie kommentators wat in die ou tradisie en gees Groot Gaan (onthou julle?) en woera-warra klappe uitdeel. Ek het dit op goeie gesag (Facebook) dat nog meer in die slag gebly het danksy Netwerk24 se onverskrokke moderator. Ek wonder wat van onse Jeremy gaan word?

Maar toe maak ek die fout om te gaan kyk wat die lesersreaksie was op Pieter Malan se berig in Rapport oor “Harry en sy prinses van parte?”, ’n ruk terug. Lekker uitdagende joernalistiek. En die kommentaar? Dis nou wat Fij van Rernsburg “diepgang” sou genoem het. Gang wat in diepte uitstoel, n’est-ce pas? My kakebeen het verby my gestoelte geval soos die kommentators air kiss, spookhoue slaan en hulle oor die algemeen gedra soos olieverkopers by ’n paaldanseres-konvensie.

Is dít wat van ons kultuur geword het? ’n Gemeente van mense wat glad nie deel wil word van die edele diskoers oor boeke en boekkultuur nie, maar die een onwelriekende flatus na die ander passeer oor politiek en die ou empire, waarvan hulle kenners is?

Komaan, liewe broeders en susters, laat die ope gesprek oor boeke herleef. Om te weet dat daar boekresensies is, is goed. Maar ons moet wys ons verstaan ook. Anders is die sing van “Sarie Marais” in Brussels ons voorland.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comentários


bottom of page