top of page
  • Uitmelkbos

VERSKRIKLIKE VERJAARDAG


HEELBO: Jacko en Tokkie. ONDER: Barbi. Die foto’s is by ander okkasies geneem.


Was gister by ‘n “verskriklike” verjaardag.

Verskriklik lekker, ja. Verskriklik stylvol. Verskriklik onthoubaar o.m. weens die kwaliteit van die toesprakies.

Hier gebruik ek egter die woord “verskriklik” in ‘n ander sin. Dit is die woord wat die verjaardagman op sy uitnodiging gebruik het – omdat hy 75 geword het en die gedagte (skertsend) onuitspreeklik gevind het. Darem net laat glip dat hy in 1936 gebore is. ‘n Mens hoef nie ‘n sompompie nader te trek om te bereken hoeveel jaar tussen 1 Oktober 1936 en 1 Oktober 2011 lê nie.

Die man ter sprake is Jacko Maree, oud-LV, gesoute prokureur en sakeman, kenner van die WVK (almal hoop hy gaan nog sy kennis in ‘n boek verewig) en bekwame, toegewyde stryder vir Afrikaans by sy alma mater, Stellenbosch, waar hy jare in die universiteitsraad was. (Blykbaar ook ‘n sieraad van ‘n eggenoot, aldus mev. Maree.)

Heildronke is ingestel deur die akademikus-skrywer Herman Giliomee, oud-administrateur van Natal Con Botha en politikus André Fourie – almal silwer tonge wat humor en erns sinvol kan sinchroniseer. Die seremoniemeester was Jacko se vrou Barbi. Met haar bekoorlike Duitse aksent en welsprekendheid was haar bydrae dalk nog die onthoubaarste!

Gaan nie lang stories maak nie. Herman Giliomee vertel in een asem van Jacko se selfvertroue en in die volgende asem hoe hy as heelagter vir Maties se eerste span ‘n hoë lugskop moes trotseer terwyl Worcester se gedugte pak voorspelers dreigend op hom afstorm. Net voordat hy sy arms om die bal moet vrou, skree iemand: ”Mis!”. Toe gehoorsaam Jacko!

Maar luister nou hoe die man terugkap. Herman onthou daardie insident so goed omdat dit die enigste keer is in twee jaar dat hy die bal misgevat het, antwoord Jacko toe. Dis nou selfvertroue!

Aan tafel vertel ‘n ander kollega van Jacko in die ou Volksraad, Piet Welgemoed, van Jacko se aspirasies as rugbyskeidsregter. Na sy eerste wedstryd, hier in die vyfde, sesde liga, sê die verloorkaptein vir hom: “Moet jou gelukwens. Jy is die eerste blinde sonder ‘n hond wat ek sien.”

Ek maak mos maar graag rympies oor dit en dat. Het ook my hand aan enetjie gewaag oor Jacko se “verskriklike” 75. Hier volg dit:

Jacko 75 – ‘n geleentheidsversie by die “verskriklike” verjaardag van Jacko (ook uitgespreek Djak-ou) Maree:

Ons drink ‘n heildronk,

‘n heildronk:

‘n heildronk op “Djak-ou”,

op “Djak-ou”, daai bak ou –

n wys ou, ‘n grys ou,

‘n ou propvol vonk;

al sy vriende wat heuglik

aan die heildronkie teug,

bewonder die donder

vir sy ewigdurende jeug!

Hennie van Deventer

Vir Saterdag 1 Oktober 2011

Geluk Jacko. Vir jou en Barbi: Lank mag jul lewe. Dit kom nie net oor die lippe nie – ook uit die hart.

(“Ewigdurende jeug”? Wel, meer as een vrou het verklap sy wou vir hom ‘n 70-kaartjie gekoop het!)

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page