top of page
  • Uitmelkbos

Vermoedens

Verstevlei, deur Jaco Fouché. resensie: Jaco Botha (Boeke24) Bespeur ek iets desperaats in die plasing van twee kennersmenings in ‘n boksie by hierdie resensie? So al asof die redakteur besef die resensie laat geskied nie reg aan die wenner van die derde prys in NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd nie? Moontlik wel, hoewel die resensie heel belowend begin. Botha is duidelik op hoogte met Fouché se oeuvre. Ek hou van sy beskrywing van die roman as Boere-Freudiaanse teks. Hy gaan maak ‘n draai by Leroux en tot hier was my aandag geboei. En dan ontspoor hy. Hy vermoed Fouché haal uit sy eie lewe aan. Hy vermoed die roman is meestal heel goeie kuns wat ‘n gemoedstemming van sy eie dra en “dat daar ‘n hele klomp mooi sinne in hierdie boek is”. Vermoed? WTF: “Maar of dit vernuwende kuns is, is ek nie van oortuig nie.” Waar was die subredakteur? En dan raak dit nog erger. Ek haal dit liefs nie aan nie, maar Jaco Botha het meer vermoedens en gelofies as wat Jaco Fouché kan verduur. Wat help dit ‘n resensent skryf ‘n driekwart goeie resensie, en begin dan spoke vermoed, waarvoor hy self eers skrik, en dan hangskouers die aftog blaas omdat hy duidelik nie sy eie analise glo nie en dink “sekere letterkundiges” gaan die boek lem? Nóú verstaan mens hoekom die boekeredakteur Louise Viljoen en Linda Rode se kennermenings in ‘n boksie naas hierdie mank resensie geplaas het. Albei sê in een sin wat Jaco Botha in die laaste gedeelte van sy resensie moes gesê het.

Deur ruite van die reis, deur Melanie Grobler. Resensie: Cas Vos (Boeke24) Jammer, maar dit is nie goed genoeg nie. Cas Vos bespreek die nuwe werk van sy mede-digter Melanie Grobler met baie insig en met inagneming van die tematiese opbou van die bundel. Maar hy laat na om te verwys na die plagiaat-klagtes wat haar vorige bundel sy rakplek gekos het, en wend geen poging aan om te bepaal hoe dit haar digterskap beïnvloed het nie. Melanie Grobler was op haar dag as een van die belowendste Afrikaanse digters van ons tyd beskou. Die ernstige poësie-leser sal wil weet hoe die trauma haar werk beïnvloed het. In terme van Melanie Grobler se digterskap, en die ontvangs wat sy kry met haar hertoetrede tot die digterswêreld, is hierdie resensie en die een in Rapport van ontsaglike groot belang, en Vos het dit hoegenaamd nie in aanmerking geneem nie.

Onder water, deur Martie Preller. Resensie: Erika de Beer (Boeke24) De Beer laat die boek interessant klink, maar ek voel altyd gekul wanneer ek aan die einde van ‘n resensie oor ‘n interessante storie moet lees dat ek op geen manier deel is van die skrywer se teikengehoor nie.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page