top of page
  • Uitmelkbos

VERJAARDAG IN BOS



Hooffoto: Heildronkie by Sabiepark se piekniekplek. Die verjaardagman sit links.

Tweede foto: swartvylslang sluk ‘n akkedis vir brekfis

Meerlust Rubicon, Uitkyk Carlonet, Beyerskloof Pinotage Reserve, Plaisir de Merle Cabernet Sauvignon, The Chocolate Box van Boekenhoutskloof (almal tussen 2007 en 2009) – dis die klas rooi menere wat die laaste paar aande by Tarlehoet geniet is.

Broerskind Marcus Malan het dit saamgebring vir sy 30ste verjaardag onder die sterre in die bos. Die suksesvolle jong prokureur van Pretoria (nog ongetroud, dames!) hou van die goeie dinge van die lewe. Hy is ‘n wynfundi en ry ook ‘n afslaankap-Volvo wat uit Swede ingevoer is.

Ons vleise het ingesluit ‘n reuse-skaapboud, perfek gebraai in die Weber, twee groot filette op die oop vuur, sosaties en wat nog. Dit was ‘n kulinêre fees.

Sabiepark het saamgespeel om die okkasie gedenkwaardig te maak. By die piekniekplek het ‘n luiperdwyfie en haar twee spelerige welpies vir opwinding gesorg. Die volgende oggend bekruip die mannetjie-luiperd daar oop en bloot ‘n troppie rooibokkies.

By Tarlehoet was die bloukuifkoeries die paar dae die inwonende standvoëls as ‘t ware. Van vroeg tot laat kon jy hulle by die watergat sien rondspring.

Drie fris bosnagape het met die nagapies en die vrugtevlermuise om die stukkies piesang kom meeding. Laasgenoemde kom op die tafel afgeduik soos vegvliegtuie – ‘n hele aardigheid.

As spesiale tot-siens-plesiertjie kom verorber ‘n jong swartvylslang (‘n skaars nagslangetjie met prominente persbruin tot swarterige skubbe) vanoggend langsaam ‘n brekfis-akkedissie by die Van D’s se agterdeur. Wonder of ‘n slangetjie al ooit so uit alle hoeke gekiek is terwyl sy prooi stadig-stadig in sy oop bek en trillende lyf verdwyn.

Saans het die kampvuur hoog gebrand en die fakkels om die lapa in die salige windstilte hul vlammetjies regop die lug in gestoot. Marcus se ouers, Cules (my jongste broer) en Dalene, sy broer, Pierre, en dié se vriendin, Yvette van Zyl, het ook saamgekuier.

Vir Yvette was dit ‘n kennismaking met die bos. Sy kom beslis weer, belowe sy. Soos Pierre is sy ten volle ingesluk (“immersed”) deur die boslewe wat vir kamera-entoesiate soos hulle twee eindelose kiekplesier bied. Ek sien gretig uit na die foto-oes uit hul yslike lense.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page