Daniel Hugo se pragtige vertaling van Jan Terlouw se Koning van Katoren beweeg tans in my huis van een gretige leser na ‘n ander. Aniel Botha se resensie in Die Burger kon nie op ‘n beter tyd gekom het nie.
Dis ‘n eienaardige appeltjie wat ek met Botha te skille het oor dié resensie. Luister: Hoekom is dit so moeilik om opgewonde te klink in boekresensies?
Kan dit wees dat woorde soos treffend, wonderlik nie meer genoeg is nie? Kan dit wees dat daar te veel volwasse afstand opgesluit lê in opmerkings soos “Dit is ’n meervlakkige verhaal wat vele subtiliteite bevat. Vir die meer ervare leser bevat dit politieke kommentaar en skerp humor?”?
En hoekom hinder ‘n opmerking soos “Dit is die soort boek wat ’n mens koop en op jou boekrak bêre vir die klein- en agterkleinkinders” my so baie?
Sekerlik omdat dit ‘n boek is wat nou gelees moet word, nie net toekomstige geslagte nie. En, laat ek maar eerlik wees, dit mens nou en hier laat vergeet van alles behalwe die boek se eie betowerende verhaal.
Ek kan sien dat Aniel Botha die boek so verruklik soos ek gevind het – soms wens ek net die resensent wil dit uitbasuin. Gedempte toon werk nie altyd nie.
***
Presies hóé wil skrywers hê moet mens reageer op hul skryfwerk? Wil hulle hê jy moet huil, lag, jouself dae lank terugtrek in bepeinsing?
Ek vermoed Mariël le Roux gaan voel sy het ten minste deel van haar ideale verwesenlik as sy Jacolette Kloppers se bespreking van Le Roux se Die naamlose (Beeld) lees.
“Indien ’n mens jou hart vir die boek oopmaak en jou aan die storie oorgee, kan dit jou ’n nag lank laat huil omdat dit eerstens so hartseer is en omdat ’n mens Carli se vrese so aan jou eie lyf kan voel,” skryf Kloppers.
Maar wat gemaak as jy nie jou hart wil oopmaak nie? Wat gemaak as jy ‘n hoë premie plaas op deurdagte skryfstyl, op genuanseerde karaktertekening, op afwisselende tempo, op spanningsbou?
Kloppers sê niks daaroor nie. Die roman mag alles daarvan hê. Kloppers gee net geen inligting wat mens kan laat besluit of sy meen dit is gepas dat hierdie roman tweede gekom het in Sanlam se Groot Romanwedstryd nie.
Soms moet mens meer aanspreek in ‘n resensie as die tematiese inhoud en die verloop van die verhaal.
***
Die vraag wat my altyd besig hou wanneer ek te make kry met nóg ‘n bundel van ‘n bekende skrywer se koerant- of tydskrifrubrieke, is wat dit is wat hulle anders as sy ander skryfwerk maak, asook anders as die rubrieke van ander skrywers. Hoekom moet ek nou, in hierdie stadium van die wedloop iets lees wat ek nie wou lees toe dit in die koerant of tydskrif verskyn het nie.
Jeanette Ferreira geen in haar bespreking van Brouhaha van Eben Venter (Beeld) darem een baie goeie rede, al is dit effens met ‘n omweg: Venter skryf met insig en geen venyn nie oor die buitenissighede van sy medemens.
Ek hou van die manier waarop sy dit formlueer: “Aan aartsgesonde sinisme ontbreek dit nie, aan diepgewortelde venyn wel.”
As ek die regte afleiding maak, dink Ferreira dis eintlik beter om hierdie skryfwerk van Venter nou, in hierdie konteks te verken – nóú is daar interessante illustrasie deur Venter self bygevoeg, asook ‘n klompie skynbaar baie kreatiewe resepte.
Hoe noem die sakemense dit, toegevoegde waarde?
Moet darem byvoeg – mens kan Ferreira se slotopmerkings beslis nie met ‘n gedempte toon aansien nie: “’n Buitengewoon begaafde skrywer. Iets kosbaars om te besit.”
Of kan mens kosbaar nou al saamgroepeer met treffend en wonderlik?
Comments