Hier is nou ‘n goue “senior oomblik” wat ek graag deel.
Bedoelende dan nie ‘n stukkie geheueverlies of ander verleentheid weens stygende jare nie, maar soos ek graag “senior oomblik” definieer: ‘n oomblik van uitmuntendheid of prestasie.
Die man na wie ek ‘n buiging wil maak. is die 88-jarige ds. Ockie Raubenheimer, voorheen van die die Londense NG gemeente (sy seun Ockie is nou daar). Die wellewende ds. Ockie senior woon die laaste paar jaar in Parklands en kom Sondae op Melkbos kerk toe.
Donderdag sou hy ons Melkbosse gryskoppe by ons kerkvereniging Silwerkrag toespreek oor “Suid-Afrikaanse getuienis in die buiteland.” Hy daag op met ‘n kierie in die hand wat ek nog nie voorheen raakgesien het nie.
Die voorsitster, Elna Smit, kondig aan dat sy hom nie aan die woord gaan stel nie – hy voel “‘n bietjie olik”.
Dit blyk die man het uit sy hospitaalbed opgestaan, sy dokter se besware vriendelik maar ferm van die hand gewys, hom – soos altyd – netjies uitgevat en siek-siek sy afspraak kom nakom.
Met sy kenmerkende glimlag stap hy daarop self na die kateder, betuig sy spyt dat hy nie die toespraak kan lewer nie, groet vriendelik en keer terug hospitaal toe waar hy vir ‘n vry-ernstige bloedprobleem behandel word.
‘n Kloeke daad, wou ek dit noem – maar waarskynlik is “kloek” ‘n te ligte ou woordjie om sulke durf, dapperheid, pligsgetrouheid en gedrewenheid te beskryf. Gebruik maar die verbeelding en voeg self na smaak ‘n raker woord in.
Weet net, ds. Ockie, dat almal in daardie kerksaal Donderdagoggend opnuut ‘n lewensles by u geleer het wat dalk dieper ingesink het as wat enige knap toespraak sou kon doen: dat ‘n mens se ware stoffasie nie met die jare hoef af te slyt nie.
Dit kan selfs veredel.
Comments