top of page
  • Uitmelkbos

VERBALE DIARREE

Politieke retoriek is dikwels robuust; opponente spaar mekaar nie as dit by slegsê kom nie. ANC-minister Lindiwe Sisulu se klap na die DA se David Maynier as ‘n LP “met sy vlooibesette liggaam”, val in daardie kategorie.

 Onvergeetlikheid sal dit nie verwerf nie, want die aanstootlikheid oortref enige sprake van spitsvondigheid. En sonder ‘n tikkie humor is ‘n politieke kwinkslag doodgebore  – gaan blaai maar deur die allerlei boekies waarin die beste opgeteken is. 

 Een van die oulikstes wat ek ken, is in Brittanje uitgegee onder die titel “The Official Candidate’s Book of Political Insults.” Die Britte is meesters op die gebied.

 Die raspertong-Lindiwe kon haar rieme styfgeloop het as sy sou gewaag het om haar vlooie-opmerking teenoor Benjamin Disraeli te maak.  Vra maar vir Gladstone, wat gewaag het sy opponent te berispe: “Sir, you will either die on the gallows or of some unspeakable disease.” “That depends, sir.” het Disraeli teruggekap, “On whether I embrace your policies or your mistress!”

 ‘n Knaap wat my nekhare gereeld laat orent staan, is die Kaapse vakbondleier Tony Ehrenreich. Hy het dit nou weer reggekry met sy verwyt aan die adres van Helen Zille omdat sy ‘n geselligheid bygewoon het in ‘n tyd van geweld, en geld op grimering uitgee terwyl armes dringende behoeftes het (Die Burger, 16 November).  

 Het ANC- en vakbondleiers sedert Marikana op die waterkar geklim?  Kom ons vergelyk Helen Zille se besteding uit haar eie sak aan grimeermiddels teenoor Jacob Zuma se uitspattigheid met belastingbetalers se geld by “Nskandla” (Jammer, SABC).

 Ek sien nie op TV dat die jonge heer  Ehrenreich self sy klere geskeur het en as op sy kop omgekeer het in rou omdat “die provinsie in vlamme opgaan” nie. Hy behoort voor die oproermakers uit te loop terwyl hy wenend uitoep: Mea culpa, mea culpa!, meen ek.   Ons wag op ‘n rolmodel. 

 Maar ek verloor my spoor.  Sonder om mnr. Ehrenreich se  uitsprake die lelike drieletter- woord toe te voeg wat dit sekerlik ten beste sal beskryf, herinner ek liewer aan die volgende netjiese beskrywing van ‘n Britse snertprater, Peter Walker: “To hear him talk, he has done almost as much for agriculture as fertilizer!”

 Maar laat ‘n mens jou nie oor Tony Ehrenreich moeg maak nie. “He is simply a shiver looking for a spine to run up” (met apologie aan Paul Keating).

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page