Die Van Deventers gaan aan boord wees wanneer die pragskip die MSC Sinfonia Dinsdagaand uit Tafelbaai vaar Durban toe. Herinneringe sal amper vier dekades terugrol na ons eerste romantiese vaart tussen dié twee stede met die Pendennis Castle in 1970.
Op die foto hierbo op die dek van die Pendennis is die Van Deventers bloedjonk. Ek was 29 en Tokkie vyf jaar jonger.
Ons was nog sonder kind of kraai. Johan, ons oudste, is in 1971 gebore. Dinsdag vaar ons oudste kleinkinders, Jacob en Thomas Claassens (5), die kinders van ons jongste. Marisa, saam met Oupa en Ouma.
Dié twee tel die slapies al lank, en toe Ouma gister, eergister vir hulle vertel hoe opgewonde sy is, antwoord Jacob ewe ernstig: “Ek is ook opgewonde, Ouma.”
Ai, om so oor die dekreling te hang en dop te hou hoe Tafelberg al hoe kleiner en kleiner word…dis mos die lewe! ‘n Ekstra dimensie Dinsdag sal wees dat ons Kaapstad se liggies agter ons laat Die vorige keer het ons in helder sonlig uitgevaar.
Ons kwartiere in 1970 was, in ooreenstemming met ons beursie, maar taamlik beskeie. Ons was iewers in die boeg van die skip ingedruk. Hierdie keer sal ons die see uit ons kajuit kan sien. Ons sal ook kan loop op die nege dekke waar ons wil.
Op die Pendennis het ‘n ketting daardie deel van die dek afgesper waar die ouens met die min pitte nie durf kom nie. Maar ag, ook aan ons kant was dit net ‘n plesier om smiddae saam met ons nuutgevonde bootvriende te sit en Pimms no. 1 drink terwyl die skaduwees langer rek.
Vyftien jaar later, in 1985, is die gesin met die Griekse lynboot die Constellation na Mauritius. Ons wellewende kelner se naam was Sotiris, onthou ek. Tot vandag bly dit my by hoe hy tot diep in die nag skottels vol Griekse kos bly aandra het.
‘n Politikus uit die vorige bedeling het op ‘n manier te wete gekom dat die boonste dek die plek is waar die slanke danseressies tussen hul kabaretvertonings bedags die son opsoek. Toe maak hy dit ook sy gereelde bestemming. Teen die vierde, vyfde keer is hierdie waarnemer hopelik onopsigtelik agterna.
Vir dié moeite kry hy toe nie net ‘n onbelemmerde blik op die gemelde dames se onbedekte wilgerlatlywe nie, maar ook op die indrukwekkende proporsies van ‘n fris vroulike kollega, wat, skynbaar onbewus van die turende medepassasier se identiteit, al hoe meer uit haar dop gekruip het.
Die see op daardie vaart was rof, bitter rof. Ons is amper 12 uur laat uit Durban weg. Toe vorder ons weens die reuse-deinings teen ‘n die gang van ‘n slak in stadige pas. In ‘n stadium is gevrees die beurende, krakende boot sal sommer nog voor Mauritius al in die oop see n U-draai moet maak en terugkeer. Darem nie, maar uiteindelik was ons minder as 24 uur op daardie eksotiese vakansie-eiland.
Dié ou vaartuig is ook al lank skrootwerf toe. Daardie reis het ongetwyfeld sy bydrae gelewer om die metaal te vermoei. Maar die lus was behoorlik geprikkel.
‘n Jaar later is ons met Oceanos (spreek uit Okeanos) van die Epirotiki-redery op ‘n vierdaagse vaart na die Griekse Eilande. Dit was die dae van die Tsjernobil-kernramp, met onvoorsiene gevolge vir die Van Deventers.
Toe ons in Athene se hawe, Piraeus, aan boord gaan, kry ek in ons kajuit ‘n program vir dag een met die volgende skoknuus: “11:00 – The MTS Oceanos sails for Istanbul (Turkey), a distance of 354 nautical miles.”
Istanboel! Turkye! Is ons dan op die verkeerde boot? Ek skrik my bloeddruk deur die dak. Toe ek uitasem by die betaalmeester kom, kon hy my gerus stel: “Nee, die verkeerde boot is dit nie. Weens Tsjernobil het baie passasiers kop uitgetrek. Twee vaarte moes toe saamgegooi word.”
Van Istanboel is ons na Mykonos, Santorini en daardie plekke. Dit was ‘n vakansie duisend – veral die ure op die dek met die stewige voorraad Suid-Afrikaanse wit wyn wat ons in ‘n yslike “toksak” saamgebring het om die buitensporige pryse van aan-boord-alkohol vry te spring. Deesdae mag jy dit nie meer doen nie. Hulle besnuffel glo jou koffers van hoek tot kant.
Tokkie onthou geamuseerd die gedoente met haar haardroër. Dié was minus die regte konneksie. In haar drasak wat altyd vir elke soort noodtoestand ingerig is, was egter wel ‘n muurprop van Europese model. Sy vra toe die kêrel in beheer van die kajuitwaardinne vir ‘n skroewedraaier. Hy was dadelik suspisieus. “Screw driver? What for?”
Toe sy verduidelik, kry hy ‘n spasma. “Wil u dan die Oceanos (onthou die “k”) die lug inblaas?” Nee, hy stuur die skeepselektrisiën. Dié daag toe op, nie met ‘n skroewedraaier nie, maar twee stukkies hegpleister. Sy raad was skokkend aards: plak die kaal drade sommer met die hegpleister aan die muurprop se gaatjies vas! Daardie haardroër is op daardie vaart nooit uit die tas gehaal nie.
Die Oceanos het so diep in ons harte gekruip dat ek skoon bewoë was toe hy, darem heelwat later, blinkpens bo in die dieptes van die Indiese oseaan aan die Suid-Afrikaanse Wildekus wegsink.
Mag die MSC Sinfonia voorspoediger vaar …
Comments