Onvergeetlike musiek
“I? was born in the 90’s but, holy gosh, I was supposed to be born in the 50’s for sure… Oh how I wish I could live in the 50’s. :(“ So skryf ‘n liewe meisiekind op die internet in een van daardie immergroen debatte oor watter era die beste musiek opgelewer het.
Op Facebook het ‘n klompie “vriende” pas weer notas oor die omstrede onderwerp vergelyk nadat Ben Engelbrecht sy geldjies op die 60’s gesit het. Die 70’s kry toe ook ‘n paar stemme. En een deelnemer merk op van die 60’s tot die 80’s was ‘n goeie 20-jaar-periode.
Miskien kom die een of twee wat beweer het dat iemand se gunstelinge bloot sy ouderdom verklap, die naaste aan die waarheid. Die musiek wat jy as kind leer ken het, is nie eendagblommetjies nie!
My kandidaat is die 50’s. Oor “my era” wil ek graag ‘n paar dinge van die hart kry om steun te werf. Wat die treffersparade betref, was dit byvoorbeeld onteenseglik die dekade van Elvis Presley met te veel treffers om naastenby almal te onthou. Elvis was ‘n grote in enige generasie se taal. Wie stry?
Mag ek nog ‘n paar noem? Boeta, kyk hierdie name: Nat King Cole, Perry Como, Bing Crosby, Mario Lanza, The Platters, Pat Boone, Harry Belafonte, Frankie Laine, Ella Fitzgerald, Shirley Bassey, Eddie Calvert, Dean Martin, Johnny Ray … My lysie is vol gebreke.
Die countrytoneel is oorheers deur Groot Stemme soos Burl Ives en George Beverly Shea (niemand maar niemand sing Oh holy night soos George Beverly Shea nie!) Op Europese verhoë was mense soos Jacques Brel, Edith Piaf en Anna-Maria Alberghetti tops. Aan die einde van die dekade het Nana Mouskouri met ‘n crescendo die Griekse musiektoneel getref.
Uit my prille jeug in die laat 40’s (Kimberley se dae) onthou ek veral Slim Whitman (Indian Love Call), die sangpaar Nelson Eddy en Jeanette McDonald (Rosemary), Vera Lynn se verlang-liedjies uit die Tweede Wêreldoorlog (Now is the hour, Auf wedersehn) en Lili Marleen (Marlene Dietrich/Lale Anderson). In ons huis is dit oor en oor op ‘n swart opwen-grammofoon gespeel. Wat sou van hom geword het?
In die Diamantstad se mooi ou stadsaal was klein Hennie by sy eerste musiekkonsert: Hendrik Susan se orkes. Jurie Ferreira het gesing: Tahiti, verre land …
Toe trou my ma, ‘n weduwee, in 1950 met Pa Malan, ‘n Nataller. Ons trek Durban toe. Pa Malan bring in die huis in (buiten Nat King Cole se Mona Lisa) ook ‘n pak Patti Page-plate met o.m. Tennessee Waltz, wat glo nou nog een van daardie staat se “nasionale liedere”, is en Mockingbird Hill (Tralala, twiddlydeedee….)
Toe ek in 1954 koshuis toe is, Jack Pauw, Potch-Volkies, maak ek kennis met plate-aande waarvan die groter kinders min gehou het omdat die ligte heelaand bly brand het. Geen handjies-vashouery nie! Fliek-aande was verreweg gewilder en die mededinging om die sitplekke in die heel agterste ry was geweldig.
Möwe du fliegst in die heimat van Magda Hain was meesleurend. When you come to the end of a perfect day van Nelson Eddy en Jeanette McDonald het die verbeelding gegryp. Ook Mario Lanza-treffers soos Beloved en die operette-musiek van Richard Tauber, Joseph Schmidt en Julius Patzak.
Glen Miller se se In the mood het gedurig in die koshuisgange opgeklink.
Van mnr. Lanza gepraat. Sy naam op my lysie kan sekere fynproewers seker laat neus optrek. Maar sy Student Prince het ek steeds in verskeie formate, ook op CD. En sy Caruso-treffers in die rolprent The Great Caruso het die chroniese ou luisteraar na LM-Radio se Hit Parades Sondagaande (Que-Sera, sera van Doris Day en so aan) vir tenoor-arias gewen.
Van tenoor-arias het my musieksmaak gegroei tot grootse Verdi-koorwerke soos Va Pensiero en die Groot mars uit Aïda, toe ander. Op Tukkies in die laat 50’s het ek ‘n ou radio van my ouers in ‘n enorme houtkas in my kamer in Kollegetehuis gehad. Een program wat ek vir geen geld sou mis nie (nie eens vir ‘n bier saam met my vriende nie) was een met as ek reg onthou, die titel World famous tenors. Beniamino Gigli se stem was vir my enorm.
Ek het vlugtig na flieks verwys. Watter ander dekade het fliekliedjies soos die 50’s opgelewer? Temamusiek doos die Harry Lime-tema, Unchained Melody, Terry se tema (uit Charlie Chaplin se Limelight), April Love, Friendly Persuasion, True Love (die grote van neuriekoning Bing Crosby en die skone Grace Kelly), Love is a many splendored thing en die mars uit The Bridge on the river Kwai was onvergeetlik, en die leste ene steeds hoogs luisterbaar.
Dan vergeet ek skoon van High Noon (Tex Ritter) – Do not forsake me oh my darling – en die oulike Tammy, wat my hart gesteel het. Jare lank het ek my droom-Tammy gesoek, maar daar was net een Debbie Reynolds.
In my huis is ‘n stewige rak vol 50’s-musiek, alle 50’s-musiek. As jy nou regtig nostalgies wil raak, kom kuier, ou maat!
Comments