HvD en Mayafudi – diep spore in die bos
Vat so, Mayafudi, ou maat! Vir die storie van jou swerftog kry ons uit die verre Taiwan vier sterre en allerlei tarentaalvere in die hoed.
Had ek maar ‘n slurp, het ek dit vir jou vandag hoog gelig oor die diep spore wat jou grootvoete getrap het.
Geniet daar in die Wildtuin gerus ‘n ekstra sluk salige Sabiewater en ‘n lang stofbad om Anton J. Jansen se gulle resensie van ons twee se “Spore in die bos” te vier. Op Melkbos is die vonkelwyn op die ys. Al is dit winter daarbuite, is ‘n yskoue Nuy-tjie beslis geregverdig.
In die gemoed is die sonskyn immers helder en koesterend.
Ek kom soek jou in die digte oewerbos as ek weer Sabiepark se kant toe kom – hopelik teen Kersfees. Dan deel ons ‘n knipoog om vir mekaar te se: ons twee is ‘n span! Eintlik ons drie, want e-boeke vir Afrika kom by.
Die resensie op Amazon:
4.0 out of 5 stars
Fabelagtige ervaring August 30, 2012
Wanneer dit kom by stories oor diere, is ek maar – lig gestel – ‘n fabelagtige snob, en min skrywers kan my vasvang met hulle verhale soos de la Fontaine en sy Franse fabels waarvan ek elke liewe een gelees en bestudeer het. Die gevolg is dat ek mettertyd begin glo het niemand kan naby hom kom nie; en daar kry ek toe ‘n heerlike verrassing met hierdie storie.
Wat my eerstens gevang het van hierdie boekie is die vroeë belofte (aangesien ek dit op Kindle gelees het kan ek ongelukkig nie pagineer nie), “Hy besef egter met ‘n pyn soos ‘n dolksteek dat hy verkeerd gedoen het. ‘n Eerbare olifant kan hom beteuel…Die veldwagters sal weldra begin soek, swaar gewapen…met die opdrag om die gevaarlike bul van kant te maak.” En, hiervandaan bou die storie in algehele glorie van vrees by die leser oor wanneer daardie dag gaan kom…
Mayafudi is nie net ‘n olifant nie; vir my is hy ‘n LEWENDE karakter met insig, geskiedenis en ‘n gewete, en natuurlik leer die leser ‘n hele paar lesse (23 om presies te wees) oor respek vir die diereryk – waarvan die belangrikste les die feit is dat diere ook maar net gevoelens het soos mense.
Die storie is geskryf met duidelike insig vanaf die skrywer, en die vloei van die verhaal het my tot so ‘n mate geboei dat dit werklik moeilik was om neer te sit. Ek het byvoorbeeld in my volwasse klasse spesiale “lees sessies” aan my studente opgedra, net sodat ek onversteurd self verder kon lees – hulle met vervelig-verpligte artikels, en ek kuier ongesteurd saam met Mayafudi. Was die boek beskikbaar in Engels, het ek dit vir hulle verpligte leesstof gemaak.
Gevolglik kon ek egter die verhaal slegs oorvertel, en hulle het aan my lippe gehang. Hulle wou daagliks weet wat het ek nuut gelees omtrent Mayafudi. My studente is Taiwanees, en gevolglik ken hulle nie (behalwe vir troeteldiere) die diereryk soos ons Suid-Afrikaners nie. En, dis waar die lekkerste van lekker ingekom het: om die verhaal met my studente te kon deel.
Die een ding wat bo alles uitstyg in die verhaal, is “‘n Trop olifante bestaan nie net uit ‘n klomp vreemdelinge wat toevallig saambondel nie. Die lede vorm ‘n sosiale groep wat vriendelik is met mekaar en mekaar se laste dra.” Hoe wens ek dat dit weer die geval kan word onder die mensdom. Daar is uiteraard BAIE wat ons by olifante kan leer.
Wat die boek verder aanbevelenswaardig maak, is die feit dat daar, soos vroeër gesê, soveel lesse is om te leer, en nie een van hierdie lessies is iets wat in jou gesig gegooi word nie, en dis nie prekerig nie. Jy besef eenvoudig dat jy nog iets geleer het.
Die boek is beslis ‘n moet lees vir alle diereliefhebbers, want dis werklik fabelagtige werk. As mense is daar soveel wat ons by hierdie dierbare olifant kan leer; en met oorvertelling, kan selfs kinders hom leer ken. Dus is dit nie net ‘n lekkerlees verhaal nie, maar dis uiters opvoedkundig.
‘n Laaste woord van my kant af: wees gereed om in kontak te kom met jou emosies wanneer jy Mayafudi leer ken en ervaar. Ek sak my kop in skaamte vir die feit dat ons ons diereryk so onderskat.
Ek sou graag die boek ‘n vyfster-gradering wou gee, maar ons het as lesers verskillende verwagtinge, en ek sou nie graag iemand wou teleurstel in hulle persoonlike verwagtinge nie. Lees dit gerus en besluit self of jy die ekstra sterretjie sou gee. Van my kant af, dus ‘n fabelagtige verhaal wat deur-en-deur die moeite (baie min daarvan, aangesien dit baie vinnig lees) werd is.
Comments