Mense sonder integriteit misbruik die internet om te lieg en te laster. Leuens sien ‘n mens amper elke dag op die web. Dit verbaas my dikwels dat intelligente mense hulle deur sulke onsin met slap rieme kan laat vang. Van laster was ek self al ‘n slagoffer.
Dat my eie bitter ervarings my nie dubbel versigtig gemaak het vir die valstrikke van die medium nie, strek my nie tot eer nie. ‘n Gesonde skeptisisme oor ander koerante se stories is boonop in ‘n leeftyd in die joernalistiek by my ingedril. Dit maak die pil nog bitterder dat die uwe self deur ‘n stuk koele bedrog meegesleur is.
Wel, helaas, ek is. Met die storie van “Herman Louw” se plaas by Komatipoort wat dan nog ‘n voorbeeld van “mislukte grondhervorming” sou wees, het ek hier groot skande gemaak. In mystorie@beeld.com kom die waarheid aan die lig – dit is ietwat anders as in my blog “Plase in hul peetjie” wat op 8 Oktober hier verskyn het.
Die les is opnuut pynlik tuisgebring: moenie eenvoudig aanvaar iets is die waarheid omdat dit uit tien verskillende oorde op jou reën nie. Toe die boodskap van soveel geloofwaardige vriende kom – van Mtunzini in Kwazulu-Natal tot Stilbaai in die Suid-Kaap tot Yzerfontein aan die Weskus, soos ek geskryf het – het ek ongelukkig aanvaar dit is die reine waarheid en niks anders as die reine waarheid nie. Soveel ander voorbeelde van dieselfde ding bestaan immers.
Toe klouter ek goedsmoeds self op die propagandawa.
Maar ons almal was bitterlik naief en het ons laat “uitvang” deur iemand wat vir eie doeleindes die waarheid verwring het.
Die “voor- en–na-foto’ s” van die verwoeste plaasopstal is wel die ware Jakob, en dit is inderdaad deur die vorige eienaar geneem, maar hy is nie Herman Louw nie, hy is Philiipus Badenhorst, en omstandighede verskil aansienlik van die beeld wat in die e-pos (en later in my blog) geskep is. Die boerdery verloop voorspoedig.
Jammer aan al my vriende aan wie ek daardie e-pos as waar en bo verdenking versprei het – nog jammerder aan al die niksvermoedende bloglesers (moet ek liewer sê boglesers!) aan wie ek perdedrolle vir vye verkoop het, en aan die nuwe eienaars wat onverdiend bygekom is.
Hoe stel ‘n mens dit reg?
Oor skeidsregter Allain Rolland se rooikaart vir die Walliese rugbykaptein Sam Warburton was daar omstredenheid. Geen twyfel dat HvD hier ‘n rooikaart verdien nie. Van die veld af met jou ou maat!
‘n Afkoelperiode in die yskas sal egter kennelik onvoldoende selfstraf wees. Die rooikaart word opgevolg deur ‘n persoonlike tugverhoor en ‘n vrywillige skorsing. Laat die ou sondaar hom liewer onbepaald uit die voete maak om sy ontnugtering in isolasie te gaan afskud en oor sy dwase liggelowigheid te gaan nadink.
Vat jou goed en trek Van Deventer, vat jou goed en trek! Vir hoe lank sal die tyd leer.
Comments