top of page
  • Uitmelkbos

VAT DAAI MEDISYNE!


Die antieke Griekse simbool vir medisyne oor die wereld heen.


‘n Medisynegrappie wat, vermoed ek, so oud is dat ek dit in een van my Tukkiejoolblaaie (1958 – 19620) sal vind as ek net hard soek, vertel van die ou wat met ‘n slepende kwaal dokter toe is.


Die dokter diagnoseer en skryf medisyne voor. Die dankbare pasiënt betaal die dokter kontant, want hy glo die dokter moet ook leef.


Hy is met sy voorskrif apteker toe, kry sy pille en betaal kontant, want hy glo die apteker moet ook leef.


Hy kom by die huis en spoel die pille in die riool af, want hy glo hy moet ook leef.


As die herhaling van die ligsininnerige storie dalk die indruk wek dat by die uwe ‘n negatiewe ingesteldheid jeens medisyne bestaan, haas ek my om skuld te ontken. Trouens, ek glo in medisyne – nou nie in alle primitiewe boererate en toordokters se “tradisionele medisyne” nie, maar wel in die formele medisyne wat ingevolge ingewikkelde formules deur hoog geleerde wetenskaplikes ontwikkel word.


Gade Tokkie beweer selfs ek is ietwat van ‘n medisyneslaaf wat hoopvol hande vol pille sal sluk vir toestande wat ‘n bietjie meer sonskyn op die vel, ‘n bietjie meer oefening en ‘n bietjie minder aardse plesiere (soos wyn en lekker kos) ook sou kon regdokter.


Ek is veral ‘n getroue medisynegebruiker wanneer ‘n dokter, soos verlede week gebeur het, skoon brandwyn vir ‘n knaende hoes aanbeveel! TvD neem dit met n knippie sout. Die dokter, ‘n geloofwaardige man, het my egter verseker hy het dit op mediese skool geleer. Hoekom sal ek ‘n slim professor aan ‘n mediese skool se insigte bevraagteken?


Die “moet-ook-leef”-grappie kry egter relevansie in die lig van ‘n nuwe dissipline wat TvD my in my 69ste jaar op die ondermaanse geleer het. Dit is om die dokumentasie wat saam met ‘n mens se medisyne kom noukeurig te lees. Voorheen het ek dit as afvalpapier beskou; nou besef ek dat daardie opgevoude stukkie dun papier waardevolle inligting en adviese bevat.


Onder die opskrif “Waarskuwings” kry veral die bejaarde nogal stof wat die hare kan laat rys – of kan laat uitval, na gelang van die aard van die middel. Dit blyk dat iemand bo 65 nie sommer kan indons en medisyne gebruik soos ‘n jonger broer of suster nie. Allerlei onplesierige newe-effekte skuil vir hom/haar soms agter die onskuldige voorkoms van die kleinste wit pilletjie.


‘n Middel wat bloeddruk beheer, kan byvoorbeeld jou toonnaels laat ingroei (grappie!), ‘n pilletjie om beter te slaap, kan jeukende aambeie veroorsaak (grappie!) en ‘n preparaat om ‘n trae spysvertering aan te wakker, kan die liefde kortwiek, as u weet wat ek bedoel (grappie!).


‘n Nogal ontstellende gedagte is dat verskillende medisynes in jou liggaam teen mekaar kan stoei soos ‘n huis wat in homself verdeel is. Die een drink jy om ‘n bepaalde doel te bereik, die ander dra in hom ‘n gif wat juis die bereiking van daardie doel kan verongeluk, belemmer of aktief teenwerk.


Uiteindelik kry nie een die oorhand oor die ander nie en bereik die getroue drinkery elke oggend voor ete en elke aand na ete niks meer nie as die handhawing van die status quo.


Dit is nogal iets om aan te herkou, veral as stories toenemend by jou uitkom van ou mense wat omtrent op sterwe na dood was, maar na alle medisyne gestaak is, skielik met merkwaardige herstel geseën is – uit die siekbed tot in die blomtuin met ‘n sonhoed, vurkie en graaf as ‘ t ware.


Gelukkig of ongelukkig is ek nie juis lief vir tuinwerk nie. Daarom drink ek maar steeds my medisyne getrou. Mag die beste medisyne wen!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page