![](https://static.wixstatic.com/media/2b7a0b_cc473a8890814057b9e709d5e7f5d975~mv2.jpg/v1/fill/w_355,h_500,al_c,q_80,enc_auto/2b7a0b_cc473a8890814057b9e709d5e7f5d975~mv2.jpg)
Vir die Saterdagoggend-program Vat Vyf met Derrich op RSG delf die deelnemers diep in hul kissies met herinneringe. As ek lus kry om deel te neem, sal ek eers ‘n era moet afbaken. Anders gaan ek ‘n afkop-hoender se rieldans uithaal. Miskien moet ek die horlosie terugdraai na my eerste 20 jaar op aarde – van 1941 af tot die begin van die dekade 60.
In 1941 toe ek in Sister Gilbert se Nursing Home in Dundee my eerste skree gee, was die oorheersende geluide op aarde die oorverdowende geraas van bomme wat ontplof, lugaanvalle, alarms, geweervuur sonder ophou, tenks wat voortrammel en soldate wat met swaar stewels marsjeer. Dit was die Tweede Wereldoorlog. In 1941 het Duitsland o.m. oorlog verklaar teen Sowjet- Rusland en het die Japanners Pearl Harbor in Hawaii gebombardeer.
As mense oorlog maak, sing hulle. In die Bybel al. Dink maar aan Miriam se oorwinningslied nadat die Egiptenare deur die Rooi See verswelg is. Die Tweede Wereldoorlog het natuurlik ook vir sy eie musiekskat gesorg, wat in ‘n sekere sin ‘n basiese platform vir my latere musiekliefde verskaf het.
As my eerste liedjie vir Vat Vyf sal ek ‘n oorlogslied wil kies: ‘n mars soos Colonel Bogey, uitgevoer deur die Boston Pops, of een van Vera Lynn, die “Forces’ Favourite”, se troosliedere wat gedurig oor die radio en op grammofone gehoor is, dalk – liedere soos The White Cliffs of Dover en Now Is The Hour, wat van my eerste musikale herinneringe is. Dit was in die 40’s gedurig in die Griek se kafee op die hoek naby ons huis in Kimberley op die draaitafel.
My keuse vir lied nommer een val uiteindelik op die Groot Treffer van Wereldoorlog Twee, die meeslepende Lili Marleen. Die tydlose Marlene Dietrich het Lili Marleen amper haar eie gemaak, maar Lale Andersen se opname is buitengewoon. My keuse val op laasgenoemde. ‘n Ironiese kinkel aan Lili Marleen wat dalk nie meer so bekend is nie, is die aanvanklike verbod op die radio-uitsending van die lied omdat dit, volgens die Duitse opperbevel, prostitusie sou verheerlik! Die soldaat ontmoet sy nooi onder ‘n rooi lantern in Hamburg se berugte St. Paulibuurt, onthou!
Maar ‘n dekade jaar later was dit as ordentlik genoeg geag vir ons koshuisbloedjies van Potch-Volkies vir die periodieke plate-aande Saterdae in die skoolsaal – so helder verlig dat ons nie eens kon handjies vashou terwyl die romantiese liedjies ons harte vir mekaar week maak nie!
Wat nie ordentlik genoeg geag is nie, was Elvis Presley se treffers wat hy van 1956 (my st. 9-jaar) af begin uitryg het. Iets soos 18 Groot Presley-treffers het die internasionale treffersparades amper ‘n dekade lank oorheers. Ek kies sy pragtige ballade Love Me Tender, wat Elvis in sy ware, veelsydige kleure uitstal. Love Me Tender het voorgekom in die 1956-fliek met dieselfde naam. waarin die ontluikende Elvis ‘n ondergeskikte rol speel – die eerste en laaste keer in sy rolprentlewe.
Die fliek se naam sou iets soos The Reno Brothers wees, maar toe Love Me Tender vooruit die mark tref, was dit oornag op almal se lippe. ‘n Miljoen plate is voor die uitreiking van die rolprent verkoop, en die slim bemarkers het vinnig toegesien dat laasgenoemde se naam verander word!
Iets van ‘n ander aard uit dieselfde era was die wonderlike kenwysie vir Jan Schutte se SAUK-aandvervolgverhaal die Du Plooys van Soetmelksvlei, of te wel Rachmaninoff se heerlike 18de variasie op ‘n tema van Paganini. As die soet klanke van Rachmaninoff se melodie elke aand om 19:20 oor die radio opklink, het die volk nader geskuif vir Oom Bartel, Tant Hybie en die ander Du Plooys se dinge. Meer as 500 000 op ‘n aand. Oom Bartel-hulle was soos familie. Ek het selfs gehoor dat ‘n ouerige dame op ‘n biduur die Here gevra het om tog een van die hoofkarakters te help “in haar tyd van beproewing”.
Dat die uwe jou wrintie geweet het die kenwysie se naam is nie, soos in die volksmond, die Soetmelksvleilied of die Soetmelksvleiserenade of iets nie, maar wel die 18de Variasie, ens. was vir my neef Ben Smith van Pretoria ‘n bron van verwondering. Elk moes dit telkens herhaal. Dit dra ‘n element by tot my sentimentaliteit.
Vir my lied nommer vier spring ek na my Tukkiejare en die tradisionele studentelied Gaudeamus Igitur, wereldwyd ‘n kampusgunsteling vir van seremonies soos gradeplegtighede tot intervarsity’s (dink ook aan Student Prince met die tenoor Mario Lanza in die titelrol!) Ek onthou ‘n paar guitige verwerkings.
As ek dink aan hoe sorgvry ons daardie ” nos habebit humus” -gedeelte van hierdie loflied aan die jeug aangehef het, kry ek nogal ‘n rillinkie. Op 71 is die humus-vooruitsig ietwat meer aktueel as doerie tyd!
As vakansiewerker by Die Volksblad in Bloemfontein van 1958 tot 1961 het ek meermale ‘n buitekamertjie gehuur in Sewende Laan, uit Aliwalstraat. naby die Klipkerk. Wiets Beukes, latere redakteur van Die Burger, was ook ‘n ingesetene. Hy had wonderlike langspeelplate. Een snit wat nog na al die jare steeds vir my aangrypend is – ek wil graag dat onse predikantsvrou Riana Hanekom dit by my tot-siens-diens op die orrel sal uitvoer – is die Largo-gedeelte uit Dvorak se Nuwe Wereldsimfonie.
Destyds was Dvorak se bobaas-komposisie vir my treffend ook vanwee die simboliese aard daarvan. My kennismaking met die koerant het inderdaad ‘n “nuwe wereld” vir my geopen – ‘n wereld waaroor ek nooit spyt was dat dit part en deel van my lewe was vir die daaropvolgende drie dekades van my lewe nie.
Comentarios