top of page
  • Izak de Vries

Vang hulle jonk EN OUD in die VSA

Ek het gister berig oor die leesprogam in Britse skole. Pearson VSA het ’n heel ander manier om kinders aan die lees te kry. Hulle hou sogenaamde Family Book Nights.

Dié soort aande word gehou in gemeenskapsale, dorpsbiblioteke en kindersorgfasiliteite. Die plek (hetsy biblioteek, skool of gemeenskapsaal) ontvang ’n volledige klein biblioteek wat gerig is op leesontwikkeling. Dié minibib bevat boeke van Penguin, Puffin en Dorling Kindersley.

Pearson se werknemers neem dikwels deel aan hierdie aande, wat aangebied word in Engels en in Spaans.

Die ouers word sáám met die kinders genooi en die noodsaak van leesontwikkeling op ’n baie vroeë ouderdom word deeglik onderstreep. Die fasiliteerders vertel ook aan ouers hoe belangrike (en lekker) dit is om saam-saam boeke te leer ontdek.

Elke geleentheid duur ongeveer twee uur en volg vier stappe.

Stap 1

Dit begin met pret, verversings en gesonde versnaperings.

Stap 2

Daarna word ’n boek gelees wat spesiaal vir dié geleentheid geskep is. Die kinders word aangemoedig om hulleself en hulle onnies te identifiseer in dié boek, terwyl daar op ’n ligte wyse vir die ouers gedemonstreer word hoe om sélf die kleinspan boekvaardig te maak.

Stap 3

Gesinne maak nou hulle eie boeke. Ouers en kinders neem foto's van mekaar en hulle kry allerlei mooi prentjies wat hulle kan inplak. Siedaar, ’n eie boek wat uniek is aan daardie gesin!

Stap 4

Nou kry almal geskenke! Aan elke gesin word ’n geskenkpakkie uitgedeel met ’n klompie klassieke kinderboeke uit die Penguin-stal, tesame met inligting oor hoe om jou kind te stimuleer. Dié pamflette word deur Pearson se Early Learning-program verskaf.

Is julle ook jaloers? Dalk, dalk, dalk kan ons ook eendag in Suid-Afrika vir kinders leer dat boeke cool is!

1 view

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page