Die verskraling wat ek einde verlede jaar vir die Afrikaanse oggendblaaie voorspel het, begin nou merkbaar word. Beeld se boekeblad bevat ‘n groot homp van twee weke gelede se Burger-boekeblad. Dit is seker makliker en goedkoper om resensies te deel, maar die outeur en die leespubliek sit steeds met net een mening oor André Brink se “Vurk in die pad”.
Boonop begin ek algaande die gevoel kry dat Beeld sy boekeblad glad nie so ernstig benader as Die Burger nie, wat mens miskien ‘n bietjie meer vertel van wat die koerant se grootkoppe dink van die mense van Gauteng en omstreke se behoefte aan kulturele nuus en menings daaroor.
Die Burger kom by baie meer Afrikaanse boeke uit as Beeld – van einde verlede jaar se belangrikste Afrikaanse boeke is nog nie deur Beeld geresenseer nie. Beeld is beslis nie besig om op alle fronte ‘n goeie diens aan sy lesers te lewer nie.
Vir Kapenaars was daar gister darem groot bevrediging, naamlik Mariana Malan se bespreking van “Van Volksmoeder Tot Fokofpolisiekar – Kritiese Opstelle Oor Afrikaanse Herinneringsplekke”.
Malan begin haar resensie half verskonend, maar gee dan aan die onderskeidende leser die sleutel vir die lees van haar resensie met die volgende opmerkings: “Die eerste wat opval, is dat dit waar is dat die Afrikaner hou van laer trek, lekker warm broei. En waar kry jy ’n beter plek om lekker saam te broei as in Stellenbosch?”
Daar is ‘n sardoniese toon wat gereeld deurslaan, soms opmerkings wat neig na ironisering, altyd ‘n amper droë humoristiese stel van feite naas mekaar sodat hulle mekaar self kan opneuk.
En dan bring sy jou aarde toe met haar reaksie op die essay oor die NG Kerk.
Ek glo nie ek lees meer in Malan se resensie as wat daarin vervat is nie – indien wel, onthou ek sit hier op Stellenbosch, middelpunt van gans die heelal. Die vlymskerp kritiek wat Malan se betoog onderlê, kan nie geïgnoreer word nie. Wat verder so interessant is van hierdie resensie, is dat Malan haar houding nie maskeer nie, maar tog genoeg doen om mens nuuskierig te maak oor die res van die inhoud ná haar opmerkings oor die windpompe en die gewels. Ek het haar in die verlede al skerp gekritiseer oor haar gebrek aan opgewondenheid, maar hier het sy baie deeglik gewys dat sy oor ‘n ander, groter register as resensent beskik.
Wat ek wel mis in haar bespreking, is iets oor die omslag, sekerlik die lelikste wat Sun Press nog die wêreld ingestuur het. Praat van ‘n voorstedelike estetika!
Nietemin, dis ‘n resensie wat Beeld se boekeblad volgende week goed sal opkikker.
Comments