Gesoek: Van Tonder, die donder, die hel. Dit kan die opskrif van hierdie stukkie wees.
Wie daardie vuige karakter is en waarom hy hier gesoek word, sal hopelik mettertyd duideliker word. Die soektog duur egter al langer as ‘n jaar – sedert ons wintervakansie in Sabiepark in Julie 2007 na ‘n paar glasies wyn in die geselskap van Gustav (oud-appèlregter) en Frances Hoexter.
In ‘n stadium kom Toon van den Heever ter sprake. Hy was joernalis (wat hom in my kamp plaas) en regter (dus ook in Gustav se kamp). Buiten vir sy werk van letterkundige waarde en op die regbank, is hy in bepaalde kringe ook bekend vir sy nogal plesierige Afrikaanse weergawe van ‘n bekende Engelse limerick.
Die oorspronklike Engels lui so:
There was an old lady from Pod
Who thought all children were made by God.
But it wasn’t the Almighty
who lifted her nightie,
It was Roger the lodger the sod.
Van daardie Afrikaanse weergawe onthou ons versameldes daardie aand in ‘n koor die treffende slotstrofe. “Roger the lodger the sod” het verbeeldingryk in “Van Tonder die donder die hel” gemetamorfiseer.
Ons krap egter kop oor die res. Ek bied aan om dit op te spoor, “omdat dit in een van my boekies verskyn”. Maar ek blaai verniet deur Scoops en Skandes en Flaters en Kraters, waar ek vermoed om dit te vind. Tuis gekom in Melkbos visenteer ek sonder welslae my leggers met ongepubliseerde stories.
Ek moet ‘n handgeskrewe weergawe besit wat ek by Willem Wepener gebedel het nadat hy by ‘n direksievergadering van Nasionale Koerante (deesdae ‘n onderafdeling van Media24) daarmee vorendag gekom het, glo ek. Daardie waardevolle dokument is egter spoorloos.
Ek vra Jaap Steyn. Hy beveel Daniel Hugo aan. Daniel sê hy het dit een keer by Stephan Bouwer gehoor. Hoop nie dis saam met Stephan graf toe nie. Buurvrou Una Beukman beveel Philip de Vos aan wat deesdae by Sènet sulke nuttige limerick-wenke gee. Nee, hy weet ook nie.
Ek stuur daarop SMS’e aan enkele vriende wat ek as waarskynlike bronne van kennis oor sulke sake identifiseer. Maar niks spring uit nie.
Toe gaan sit ek maar voor my rekenaar, kry my geheue in rat en improviseer so ‘n bietjie. Wat hier volg, is nie suiwer Toon van den Heever nie. Soos hulle in musiek sou sê, is dit ‘n variasie op ‘n melodie van Toon van den Heever nadat Hennie van Deventer vir hom sekere vryhede daarmee veroorloof het.
Ekskuus, regter Toon, maar dis die beste wat ek kon uitrig:
‘n Onskuldige plaasnooi, Nonnatjie Nel,
Glo babas kom net op Hoër bevel.
Maar dit was nie die Almag
Wat haar laat verwag,
Dit was Van Tonder die donder die hel!
Skuil nie iewers iemand wat Toon van den Heever se presiese (en heelwat beter!) oorspronklike weergawe kan verskaf nie?
Commenti