top of page
  • Izak de Vries

Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom


Martie Preller het ’n paar goed op my blog geskyf wat ek graag stuk-stuk aan die groot klok wil hang.

Ten eerste het sy hierdie boek aanbeveel: Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom, ’n gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek. Dit is deur Maritha Snyman en Gretel Wybenga saamgestel en deur Lapa uitgegee.

Dit is wat Lapa self hieroor sê:

Hierdie gids vervul ’n wesenlike leemte ten opsigte van oorspronklike navorsing by resente tekste en genres oor Afrikaanse kinder- en jeugboeke op alle vlakke. Dit is geskik vir die vakspesialis soos biblioteekkundiges, navorsers op die terrein van kinder- en jeugliteratuur en voor- en nagraadse studente aan tersiêre inrigtings, maar ook vir die algemene leser soos ouers, onderwysers en ander belangstellendes. Die boek is verdeel in ’n afdeling met artikels oor die kinderboekillustrasie, kindertydskrifte, bekronings, die vertaalde boek en reeksboeke, sowel as ’n poësie-, prosa-, en toneeloorsig. Die tweede afdeling bevat 123 outeursprofiele, alfabeties gerangskik.

En dit is wat Boekevat, daar uit Europa, oor die boek sê:

Ek gebruik bitter gereeld Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom dit is inderdaad 'n uitstekende gids. Van die boeke in die Engelse literatuur wat as jeuglektuur geskryf is maar uiteindelik vir volwassenes en kinders (dikwels met verskillende stofomslae) bemark is, is Holes, The boy in the striped pajamas en The curious incident of the dog in the night-time my gunstelinge!

Daarop antwoord Martie toe:

Ja, ja, Boekevat. En Catcher in the Rye en To Kill a Mockingbird en Lord of the Flies. 'n Mens sal seker nooit weet nie, maar ek is amper doodseker nie een van daardie boeke is geskryf "as 'n boek vir kinders/jongmense" nie. Dit was net 'n storie - 'n mensstorie. Kinders is ook mense :) Tieners ook. Soms het mense nogal blykbaar die idee dat "tieners" (veral) 'n spesie op hulle eie is en eers "mense" word as hulle 18 is? :) En as mens groepe mense so sien as 'n homogene groep - dan IS jy dalk geneig om te wil "preek". Daar is min boeke in Afrikaans in vergelyking met Engels, dus is ons dalk meer in staat om te "kategoriseer" - ook omdat die hoofmark vir "tienerboeke" die skole is.

Martie is reg oor die skoolmark. Ek maak ’n lewe uit die onderwysdepartement. Helaas.

Dankie, julle. Ek is besig om deur die res van die kommentaar te werk en sal binnekort meer daaroor vertel.

3 views

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page