top of page

VAN LAG KOM HUIL

Uitmelkbos

Dr. Francois Hanekom laat sy Melkbosse gemeente soms nogal regop sit met sy onortodokse formulering van preektemas. ‘n Week gelede het ons nog regopper as gewoonlik gesit toe ons die tema verneem: “Geniet jy ‘n ‘strip-tease’?”

Natuurlik laat so ‘n buitengewone tema lidmate wonder: wat voer onse leraar dié keer in die skild?

Aan die orde was die storie van Noag, die wynboer, wat te diep in die bottel gekyk het. In Genesis lees ons hoe hy kaal in sy tent sy roes gaan afslaap het, en van sy seuns Sem, Gam en Jafet, se verskillende reaksies op hul pa se verleentheid. Gaan lees gerus maar in Genesis 9: 20 -29 hoe Gam se onverskilligheid hom duur te staan gekom het. ‘n Klassieke voorbeeld van my Ouma Visser se geliefkoosde vermaning: “Van lag kom huil!”

In ieder geval, dr. Francois had nog ‘n “verrassinkie” vir sy gemeente. Terwyl almal nog ongemaklik rondskuif oor wat die “strip-tease“-preek kan oplewer, toor hy ‘n rooi bra en ‘n wit mansonderbroek onder die kansel uit. Njannies. Jy kon as’t ware hoor hoe na asems gesnak word.

Maar dit was sommer net oëverblindery. Klaar geterg, neem die preek ‘n geheel ander wending. Die gemeente luister aandagtig na ‘n oproep om nie mense verbaal kaal te stroop deur hul oomblikke van swakhede vir openbare sensasie te ontbloot nie. Hy haak aan by 1 Korintiers 13 oor die liefde wat alles bedek, en moedig ons aan om in liefde ook so ‘n bedekkende “dak” op te sit oor ander se skades en skandes.

Als in als ‘n mooi, positiewe en verrykende preek.

Oor die amperse misverstand wat die aankondiging van die preektema in die Nuusbrief en elders gewek het, het ek ‘n speelse versie geskryf wat ek, tot sy plesier, vir Francois gestuur het:

Doomnie stel vir ons ‘n wip,

Vra vir ons: Hou jy van ‘strip’?

Ek dink: O wee, hoe sê mens nee?

Toe lei hy ons op ander weë.

Lyk of ‘n nuwe versieskryf-seisoen by HvD aangebreek het. Gisteraand net voordat ek die ligte afsit, kry ek ‘n nuwe “inspirasie” – oor die Noag-stukkie self. Hier’s my Noag-versie vir wat dit werd is:

Gam dag nog hy kan maar lag;

Toe ontwaak No-ag met nuwe krag.

Verdoem, in ‘n felle donderslag,

Meteens Gam’s ganse nageslag.

Hoop ek tas met die kortpad wat dié versie vat, nie eksegeties te ver mis nie!

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Komentarze


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page