top of page

VAN GAPSA TOT BLAPSA

Uitmelkbos

Ek is een van daardie een-bank-, een-party-, een-kerk-, een-rugbyspan-, een-vrou-mense. As ek my lojaliteit gegee het, het ek dit gegee.

Vandag wil ek nie oor rugby of my vrou of oor my oorlede politieke party (veral nie oor laasgenoemde!) praat nie. Ek praat oor banke. Oor my bank – eers Volkskas, later herdoop tot Absa.

Volkskas was ook bekend as die ploegbank weens die logo van ‘n ploeg, wat – meen ek – die boodskap van arbeidsaamheid moes tuisbring. Nadat dit Absa geword het, het die logo te nuwerwets geword om daaruit ‘n bynaam, soos ploegbank, af te lei.

My swaer Fanie van Wyk het, as gevolg van die immer stygende bankkoste, ewe vindingryk die naam Gapsa geskep.

Natuurlik sou dit onbillik wees om net Absa oor koste te blameer, soos ek in die volgende hekelversie in my bundeltjie “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof” geredelik erken:

Standard, Ee-en-Bee of Absa/elke bank raak nou ‘n Gapsa/ hou hul hande vir jou rande/gee net sente vir jou rente.

Ewe onbillik sal dit wees om te kenne te gee dat een bank noodwendig meer droogmaak as ‘n ander. My ervaring is egter beperk tot Absa. Ek ken sy goed en sy sleg. En, jammer om te sê, in my boekie heet hy deesdae Blapsa.

Drie jaar lank, nee langer, spook ek vergeefs om ‘n adres wat nie meer bestaan nie, by Blapsa verander te kry. Elke jaar as ‘n bepaalde belastingdokument vir my gepos word, gaan dit na daardie adres.

Hoeveel kere ek al perd opgesaal en afgesit het bank toe om die verkeerde adres te probeer nek-om draai, kan ek nie onthou nie. Elke keer kry ek die waarborg: “Nee, meneer, daardie adres is nou ORAL verwyder. Jy sal NOOIT weer daar pos kry nie.”

Vanjaar, waaragtig – daar gaan die dokument weer na die verkeerde adres. In wanhoop bel ek Absa en probeer ‘n amptelike klag registreer. Maar dit lol. Die mense kan of wil net nie verstaan nie. Op hul stelsel is my adres reg, en basta.

Uiteindelik beland ek ny ‘n nooi met klaarblyklik meer as die gemiddelde begrip. Nadat ek stadig en mooi verduidelik het, belowe sy dis nou naby die die einde van my pyn. Ek kry selfs ‘n verwysingsnommer as kwitansie vir my moeite en verdriet.

Nou anderdag is ek nie tuis nie toe die een of ander iemand hoog op in “kliënteverhoudinge” my vrou bel. Die man drup van skeptisisme – aldus my vrou, en ek aanvaar haar geloofwaardigheid nie net uit lojaliteit nie.

“Mevrou, daardie adres bestaan nie op ons stelsel nie – wat is die datum van die laaste brief met daardie adres?” wil hy ‘n troefkaart speel.

Toe sy hom inlig 28 Februarie 2010, hoor sy hoe hy sy asem vinnig intrek.

Nou moet ek liewer self bel, is sy opdrag. Maar hy is klaarblyklik n besige man – selde op kantoor. Ek bel en bel, los boodskappe en dreig.

Na dae kom ek eers by hom uit. Die ondersoek is afgehandel, hoor ek. “Nêrens op die stelsel” kom daardie adres voor nie.

“En die brief van 28 Frebruarie 2010 dan waarmee ek hier voor my sit?

Vir daardie raaisel het hy geen antwoord nie. Faks die brief, versoek hy. Toe faks ek hom.

Die Groot Stilte het daarna weer neergedaal. Netnou toe ek bel, was hy nie op kantoor nie.

Arnold, my vriend, ek hoop Blapsa betaal jou ‘n goeie salaris. Om so besig te wees, en dan nog sulke yslike probleme te moet oplos, kan geen grap wees nie!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Commenti


bottom of page