top of page

Van der Merwe, Van der Merwe – kom in Van der Merwe!

Uitmelkbos

Van der Merwe, Van der Merwe, waar kruip jy weg? Ek het darem bitter lanklaas ‘n nuwe Van der Merwegrap gehoor. Is die Van der Merwegrap ‘n uitgestorwe spesie of dalk maar net in n winterslaap?

Die winterslaap-teorie is nie onwaarskynlik nie. Grappe hiberneer inderdaad. Soos die kat kom hulle egter weer … en weer … en weer.

Party kom wel in ‘n splinternuwe gedaante. Soos ‘n slang wat na sy winterslaap sy ou vel afgooi. Party gaan maak oorsee ‘n draai en word oorkant die blou waters in ‘n nuwe idioom verpak.

Van grappies wat uit winterslape wakker word en soos wafferse Rip van Winkels in ‘n nuwe era opduik, is die volgende enetjie ‘n sprekende voorbeeld. Dis van die omie wat protesteer toe die leerling-verpleegster die skeermes en kwas uithaal. Hy: “Nee, maar ek’s dan hier vir n oogoperasie. Sy: “Oom, hier staan dit op jou kaart. Jy’s hier vir jou horingvlies.”

Ek en ander 60-plussers ken daardie grappie dekades al. Hier duik dit onlangs in Rapport se Pollux-rubriek weer op. Nou lag nuwe generasies opnuut daarvoor. Iewers moet blykbaar ‘n soort grap-“skrêpjaart” wees waar ou modelle soos dié lank geberg word, of hoe?

‘n Voorbeeld van ‘n storie wat ver paaie geloop het, was oorspronklik in die jare 80’s van die vorige eeu in Beeld se politieke hekelrubriek Lood – ‘n Suid-Afrikaanse anekdote in murg en gebeente. Nou die dag – voilá! – verskyn dit op my rekenaarskerm so Iers soos John Robbie.

Die karakters is almal Iere – dis Paddy en sy maats en nie meer Oom At Badenhorst en sy maats nie – en hulle praat Ierse Ingels dat jou ore die jolliejeuk kry.

Die Suid-Afrikaanse weergawe is so mooi dat ek dit graag hier herhaal. Hier kom dit: Oom At Badenhorst – ‘n legendariese LV van hier voor, tydens en na die Tweede Wêreldoorlog – en ‘ n paar ander Volksraadslede het ‘n mooi staanhorlosie present gekry. Hulle besluit toe die een wat die beste storie kan vertel oor wat die lekkerste ding op aarde is, kan die horlosie vir hom vat.

Een sê ‘n dag langs die viswaters is die lekkerste, ‘n ander besing die heerlikheid van ‘n topwyntjie, ‘n derde vertel niks gee hom groter plesier nie as die gebrul van ‘n gehoor wanneer ‘n politikus ‘n treffer-kwinkslag los.

Toe Oom At se beurt kom, praat hy inniglik oor hoe onoortreflik lekker dit vir hom is wanneer hy in die winter so luierig onder die komberse wakker word, en hy trek sy ou vrou so styf teen hom aan…

Hy word eenparig as die wenner aangewys.

By die huis gekom met die horlosie, reken hy dit sal raadsaam wees om vir sy vrou ‘n aangepaste weergawe van sy wenstorie te vertel. Hy sê die manne het hom bekroon vir sy vertelling hoe lekker dit is om sy vrou kerk toe te vat en dan so styf teen haar te sit en luister na die predikant.

Op ‘n dag eet hy en sy vrou in die Volksraad se eetkamer. Sy maats kom nader en sê vir haar Oom At het darem met ‘n pragtige storie die horlosie losgepraat. “Ja,” antwoord sy, “die At darem. Hy kom so min daar en as hy die slag daar kom, raak hy aan die slaap!”

‘n Soortgelyke geskiedenis sit agter die storie van die vrou wat moet ginekoloog toe. By die huis druk sy vinnig haar waslappie in ‘n sakkie om vir oulaas net gou weer die nodige te kan doen. Maar, o wee, sy gryp per abuis sussie se sakkie vol blinkers van die skoolkonsert.

Kom ons los maar die detail. Aan die einde sê die ginekoloog eenvoudig: “Ai mevrou, jy hoef darem nie soveel moeite te gedoen het nie!”

Tokkie, my vrou, het van die arme vrou se verleentheid ook al in die jare 80 in Bloemfontein gehoor. Toe sou dit gebeur het met ‘n vriend van die bure se seun wat besig was om in Obstetrie en Ginekologie te spesialiseer.

Nou die aand herontdek sy die storie in ‘n omnibus van die bekende Barbara Johnson -sogenaamde Koningin van Bemoediging. Die bure se seun se vriend is nou heel uit die prentjie. Nee, in die Barabara J-boek is dit – natuurlik! – ‘n Yank-dame en ‘n Yank-arts. Selfs die blinkers is blinker!

Maar laat ons ons nie hoogheilig hou nie. In hierdie dae kom die volgende Jacob Zuma-storie per e-pos hier by my aan:

Jacob Zuma while visiting a Primary school, visits one of the classrooms.

The class are in the middle of a discussion related to words and their meanings. The teacher asks the new ANC leader if he would like to lead the discussion on the word “tragedy”. So the leader asks the class for an example of a tragedy.

Josiah stands up and offers: “If my friend, who lives on a farm, is playing in the field and a runaway tractor comes along and knocks him dead, that would be a tragedy”. “No” says Zuma, “That would be an accident”.

Beauty raises her hand: “If a school bus, carrying 50 children, drove over a cliff, killing everyone inside, that would be a tragedy.” “I’m afraid not” explains Zuma, “That’s what we would call a “great loss”.

The room goes silent. No other children volunteer. Jacob Zuma searches the room. “Isn’t there someone here who can give me an example of a tragedy?”

Finally at the back of the class Sipho raises his hand. In a quiet voice he says: “If a jet, carrying you, your wives and most of the ANC Ministers, is struck by a missile and blown to smithereens, that would be a tragedy.”

“Fantastic!” exclaims Zuma, “that’s right. Now can you tell me why that would be a tragedy?”

“Well says Sipho, “because it wouldn’t be a great loss, and it probably wouldn’t be an accident either.”

In sy oorspronklike weergawe was hierdie ‘n Britse storie waarin twee Engelse politici – bekendes, maar ek het hul name vergeet – figureer. Maar wat, kom ons leen maar so oor-en-weer bymekaar, stof af, duikklop en herwin.

Uiteindelik is die skat van grappe internasionaal tog maar die wenner!

(Hierdie stuk het oorspronklik as webjoernaal by www.hennievandeventer.com/blog.html verskyn)

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page