Die bekende stadium van “brille en pille” breek vir sekere seniors aan wanneer hulle, by wyse van spreke, nog in die kinderskoene van hul bejaardheid verkeer. Ek verkies om nie te probeer onthou hoeveel jaar gelede ek al die volgende versie uit pynlike persoonlike ervaring neergepen het nie:
Sonder sy medisyne
is die oubaas
vol skete en pyne;
sonder sy bril
is hy ‘n ronde nul.
Namate ‘n al hoe dikker stroom van vriende vir ‘n verskeidenheid “vervangings” na die ortopediese afdelings van Medi-Clinics en Netcare-hospitale stroom, raak ek my toenemend van ‘n volgende stadium op die geriatriese glyplank bewus.
Hierdie stadium se naam kan wees “vervang en verlang”. Die ‘vervang” slaan natuurlik op die enorme lot verrinneweerde heupe, knieë en skouers wat deesdae lag-lag uitgeslag en met spiksplinternuwe metaal of plastiek vervang word. Na ‘n ruk op krukke is die ou lyf dan weer pure perd .. of amper.
Die ”verlang” blyk uit die oulike llustrasie hierbo. Daardie ou in die rolstoel wip gewis nie om dowe neute so ambisieus al hoër en hoër op die wipmat nie. Enersyds word hy seker gedryf uit menslike nuuskierigheid – die gras aan die anderkant van die draad, jy weet. Andersyds is die arme drommel vermoedelik ook maar soos die hert in dorre streke van die ou Psalms en Gesange – skreeuend dors na die genot.
Verlange na vergange tye, ai ja. Maar laat ons maar nie te diep op die ou sakie ingaan nie. Netnoumaar lees kinders in tedere jare ook hierdie gryse ou omie se blog, en ek soek nie ‘n PG-klassifikasie nie!
Helaas lê nog stadiums van agteruitgang voor. Net eers gou twee stories uit die huis van vriende waar die ortopeed se skalpel die vrou en moeder onlangs geruime tyd van haar flukse voete af gehad het.
Nadat sy so drie weke op die gemeente se gebedslys was, kondig haar vermoeide man sugtend aan hy gaan nou vra dat haar naam met syne vervang word!
Hy is dieselfde ou wat die blink plan bedink het om ter wille van gladde kommunikasie vir sy liewe gade ‘n fluitjie te gee om hom te ontbied wanneer sy dienste benodig raak. Een middag kyk hy rugby. Wat hy nie verstaan nie, is dat die skeidsregter se fluitjie blaas en blaas, maar die spel gaan voort. Geïrriteerd draai hy die klank af. Die blasery hou nie op nie. Eers toe dring dit deur waar dit vandaan kom. Hy spring op en storm kamer toe!
Stadium drie kan ons noem “dop en verstop”. Ken ek hom nie. Twee glase rooiwyn en die neusj is bhot-thoe van die sjinus. Atiesjoe!
Oor dié stadium het ek ook ‘n versie geskryf:
Elke denkbare kanaal
– van nasaal tot urinaal –
is verstop of skeef of krom,
dis die kruis van ouderdom!
Stadium vier – dis die gevreesde stadium van “krom en dom”. Sy HvD-versie lui so:
Ouderdom, benouderdom;
Die oud buig die lyf al krommer,
Die dom word, helaas, al dommer!
Ouderdom, benouderdom …..o wee, hier kom ekke!
Comments