Winter 2006, winter 2007, winter 2011, somer 2012
Tempus fugit, het die ou Romeine mekaar fronsend en kopskuddend toegevoeg as die seisoene skynbaar al hoe vinniger op mekaar se hakke begin volg. Kan nie verskil nie. Die tyd vlieg ja – die tyd het toe ook al gevlieg.
Tempus is fugitting like mad, het die Engelse omroeper Eric Egan in die jare 50/60 op die SABC kwytgeraak. Kan ook nie van hom verskil oor die tempo van die jaarwisselinge nie.
Ek noem “onsekure statistieke” in die voorwoord van my laaste bosboek, Duisend Dae Langs die Sabie, as die rede dat ek oor die presiese getal dae (bednagte) in Sabiepark ietwat in my geheue rondtas. Presies wanneer is die 1000ste dag bereik? Daardie aand moet bepaald tog gevier gewees het. Dalk is die spesiale bottel rooi eers op die 1005de dag oopgemaak, of op dag 1008.
Oor een (nuwer) aspek van ons Sabieparkse kuiers probeer ek die statistiek wel sekuur hou Dit is oor ons besoeke saam met die tweeling, Jacob en Thomas Claassens (nou 7), wat een van ons verrykendste bostradisies geword het.
Ek en Tokkie was in Desember/Januarie op ons 36ste kuier by Tarlehoet in 13 jaar. Een besoek was net vir ‘n Paasnaweek. Ons het van die Kaap gery en gery en gery. Marisa was toe student in Bloemfontein en sy is die Donderdag na klas daar opgepik om Sabiepark aan haar te gaan bekend stel. Van die wintervakansies, veral aan die begin toe ons jonger, sterker en avontuurliker was, het tot drie maande elk geduur. Om twee maande die tentpenne van Melkbos na Sabiepark te verskuif, was niks snaaks nie.
Maar die seuns: hul alleenkuiertjies saam met Oupa en Ouma het hierdie somer tot agt geklim. Aanvanklik het ons ‘n soort kermisbed in ons slaapkamer geskep vir die okkasie. Nou is hulle al groot, onafhanklike, dapper manne met hul eie slaapkamer. Wat eers bekend was as “Ouma se kamer” het ‘n nuwe naam: “Die tweeling se kamer”. Ouma sal, helaas, nie weer op Sabiepark se stoep sit en vir haar “beeste” (blouwildebeeste) en “varke” (vlakvarke) kyk nie. Sy word 98.
Die tweeling se heel eerste besoek was saam met hul ouers. Toe was hulle eintlik nog babatjies. Net ouer as ‘n jaar en op hul veiligste in ma en pa se arms. Op die eerste foto is hulle in die winter van 1906 by Tarlehoet se naambord (goeie swarthout uit die Kaap) afgeneem – die eerste foto in ‘n reeks wat vertel hoe woes die tempus inderdaad fugit.
Die enetjie regs is Thomas en die enetjie wat verseg om vir die kamera te kyk natuurlik dan Jacob. Op latere foto’s kyk Jacob darem vir die kamera. Hy slaag nie elke keer om ‘n glimlag uit te forseer nie.
Foto twee is geneem op Jacob en Thomas se eerste besoek sonder mamma en pappa, Dit was in Julie 2007. Hulle was toe drie en nog in doeke. Die avontuur het begin toe ons in Kaapstad op Nationwide se Boeing klim. Die avontuur het voortgeduur, vyf jaar al. Vir al vier kleef kosbare herinneringe aan die vakansies in die bos, en ek rapporteer dankbaar dat hulle ware bos-seuntjies is – lief vir die diere en die plante (net nie vir die perdebye op die stoep nie!)
Nationwide het ongelukkig intussen stert tussen die bene gesteek (wag hoeka nog op ‘n terugbetaling uit die bankrot boedel!). Dit het ons beroof van ‘n gerieflike, relatief ekonomiese manier om by Sabiepark te kom. Die laaste paar jaar het ons ge-Kulula tot in Johannesburg. Die Honda moes daarna die kilometers vreet. Nou het ek lui geword vir daardie kwaai ryery. Die Honda is terug op Nelspruit.
Die vliegtuigkaartjies Nelspruit toe is sommer heelwat duurder, maar daardie vier uur wat jy spaar, is goud werd. En al die taxi’s en swaar vragmotors verdwyn uit jou lewe.
Intussen het Jacob en Thomas se boetie Christopher (vandag presies drie jaar oud) darem ook al ‘n keer of wat kennis gemaak met die bos, asook hul nefie Migael (5) van George. Maar jammer, Migael en Christopher, jul tydsberekening tel teen julle. Dis Jacob en Thomas wat hul buiging op hierdie dal van trane en plesiere gemaak het toe Oupa en Ouma nog opgewasse was vir die eise wat peuters en kleuters op so ‘n bosvakansie stel – en dit is hulle twee wat deel van ‘n tradisie geword het, wat in elk geval, helaas, ook nie vir altyd sal kan aanhou nie.
Op foto drie is die drie Claassens-seuns saam by die naambord in Julie 2011. Die twee ouer boeties slaag daarin om meewarig ervare te lyk.
Foto vier is op 8 Januarie 2012 geneem, ‘n dag voordat ons moes omdraai Kaap toe vir die premature opening van die Kaapse skole op 11 Januarie. Was sommer baie jaloers op die binnelanders wat nog ‘n week vakansie kon hou.
Ouma en ma Marisa is verras dat Oupa die manne toegelaat het om so windmakerig op die Tarlehoetbord te sit. Sê nou die ding het gebreek, soos een keer tevore toe Oupa en oom Herman le Roux se vaardighede as skrynwerkers hulle met die opsit daarvan in die steek gelaat het. Professionele hulp moes ingeroep word.
Deesdae staan ons bord rotsvas – storms of te not. En die jongehere lyk darem vir Oupa te ouliik as hulle so grootman poseer. Ongelukkig wys dit ook maar net weer hoe tempus fugit!
Comments