top of page
  • Uitmelkbos

Van albei kante Daniel Hugo

Twee kort gedagtes vandeesweek weens oninteressante boekeblaaie: 1. Op LitNet vind Daniel Hugo Dolf van Niekerk se “Lang reis na Ithaka” vaal – anders as dr. Lucas Malan se mening verlede week in Rapport. Ek is geneig om meer met Malan saam te stem hieroor as met Hugo – maar as mens die twee resensies met mekaar vergelyk, staan Hugo s’n vir my, met een uitsondering, op sterker bene. Alleen omdat hy argumenterend sy punt wil maak, en ‘n mens by Malan voel hy verswyg iets wat hy kon gesê het. Die uitsondering is Hugo se beswaar teen Van Niekerk se oorname van frases uit ander digters se werk, wat volgens Hugo “(waarskynlik) onbewuste oorname” is. Hoe kan hy aanneem dat die onbewustelik was? Ongeldig, dr. Hugo. Wie sê Van Niekerk het die aanhalings nie doelbewus gebruik nie? Hugo noem ook die kleurvolle omslag in die verbygaan – kleurvol? Wat op aarde het daardie koekstruif van kleure met die bundel se inhoud te make? 2. Emeritus professor Ampie Coetzee resenseer in Die Burger weer Daniel Hugo se nuwe bundel, “Die panorama in my truspieël”. Nou moet ek dadelik erken dat daar net een bundel is wat in die onlangse maande verskyn het wat my meer bekoor het as Van Niekerk s’n, en dit is hierdie bundel van Hugo. Coetzee het te staan gekom voor ‘n probleem wat, vermoed ek, ‘n resensent grys hare behoort te gee: Hoe bespreek ‘n mens ‘n bundel waarin die digter self beken dat dit soms weinig meer is as klank en ritme en beeld? Coetzee het hom oorgegee aan aanhalings en nogmaals aanhalings. In ‘n sekere mate sal dit lesers help om ‘n idee te kry van die bekoring en trefkrag van Hugo se verse. Ongelukkig beteken dit ook dat die resensie nie die bundel na behore takseer en evalueer nie. Hoekom Hugo aldus resenseer, en Johann de Lange op die gewraakte manier van onlangs in Die Burger? Laastens: Coetzee verwys na die mooi bandontwerp. Fout! ‘n Goeie mansvriend vestig my aandag daarop dat dit ‘n kantspieëltjie is wat ons daar op die omslag sien, nie ‘n truspieëltjie nie. Het Protea Boekehuis niemand wat behoorlik omsien na die omslae van hul digbundels nie? En as hulle dink ek kloof hare – gaan lees die bundel. En sien dat die digter opkyk van die stuurwiel na sy truspieël, nie sydelings afkyk nie.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page