top of page
  • Uitmelkbos

VALLEI VAN VERLEIDING


Kyk, hierdie ou is lief vir sy wyntjie. As ware wynliefhebbers begin gesels, is dit egter dikwels bo my vuurmaakplek. Die geure van vrugte en neute wat hulle so behaaglik raakruik en –proe, ontwyk my gewoonlik. Wyn is vir my lekker (meesal) of nie lekker nie (by uitsondering).

Ek was die naweek by ‘n kelder wat die klem nie net op die neus, die smaak en die gewone sintuiglike gewaarwordinge van wyn laat val nie. Hy bemark sy wyne met ‘n ietsie ekstra; noem dit maar ‘n speelse sensualiteit.

Die name van sy produkte is al klaar prikkelend: Temptation, The Original Sin, Nymphomane …. Die simbole op sy etikette en brosjures voer die suggestie verder: ‘n naakte eva en die slang, slanke vrouefigure minus hul kleertjies in ‘n ring-a-rosy-kringetjie (kyk die Satyrica-etiket), ‘n dame met bloedrooi lippies by ‘n volmaak-ronde bloedrooi appel – alles baie begeerlik.

Die kelder se naam is La Vierge (betekenisvol, die “maagd” in Afrikaans). Hy is in die prentjiemooi Hemel-en-Aarde-vallei, naby Hermanus, gebalanseer teen ‘n hang, omring van wingerd wat in diep herfskleure begin ryp raak. Draai regs, as jy van Hermanus se kant kom, by die Wine Village op die R43 na Kleinmond. Net 6,6 verder km op die R320 “sweef” die wit verdieping-gebou met sy uitnemende uitsig oor die skilderagtige vallei.

La Vierge (spreek uit La Vie-ersj) begroet jou met ‘n ondeunde lewensgroot beeld van ‘n meisie met ‘n rokkie wat doer wip by die trappies van die parkeerplek af. Die wip van die rokkie verklap die geheim van onderkleertjies wat uitdagend ontbreek.

Dit tref jou dadelik: die liefde vir die vrou en die liefde vir die wyn (die wyntjie en Tryntjie van die spreekwoord) loop hier hand aan hand, waarskynlik oor die bekoorlikheid en verleidelikheid wat aan hulle gemeenkaplik is.

Ou vriende, Chris en Annette van Rensburg wat wydsbeen in Bloemfontein en Kleinmond woon, het my en Tokkie aan La Vierge gaan bekend stel nadat ons die vorige middag al ‘n heildronkie met sy sprankelende, droë Cap Classique op die weersiens gedrink het. Die impak was onmiddellik.

La Vierge haal graag vir Oscar Wilde aan, bv. dat “the only way to get rid of temptation is to yield to it.” Hy nooi besoekers met die belofte dat “paradise awaits”.

Gaan oordeel maar self oor die “paradys”-storie. Die prentjie van La Vierge tussen die wingerde is egter diep ingegrawe in my gemoed. Ek kan dink dat as jy jonk is, ‘n wittetjie of rooietjie op die hangende “champagne veranda” die verbeelding kan laat huppel van nektar op die tong, tot sagte fluweel onder die vingerpunte, tot algemene ekstase.

‘n “Nymphomane-tjie” of twee kan by wyse van spreke tot ‘n “Affaire” lei – nog een van La Vierge se wynname. Maar wag, ek is 70 jaar oud.

‘n Mens besing verskillende kelders om verskillende redes. Vir La Vierge hef ek ‘n loflied aan oor sy ligging in daardie skilderagtige vallei; ook die smaakvolle bewondering vir die fynheid van die vrou en van goeie wyn wat hy so gloeiend uitstraal. Ten derde oor argitektoniese attribute soos strategies geplaasde toilette wat, sittend, die asemrowendste panorama bied.

Chris en Annette verseker dat die kos ewe verloklik en strelend vir die sinne is. Hulle kan oor kos oordeel, want Annette is self ‘n towenaar agter die kospotte.

Maar moenie dink om te swig vir La Vierge se versoekings kom goedkoop nie. Soos elke temptasie het dit ‘n prys – die Cap Classique kos iets soos R130 ‘n bottel. Vir liefhebbers met dik beursies is dit seker nie buitensporig nie, ek weet. Maar ek kan die wete nie uit my kop verdryf nie dat ek Nuy se voortreflike vonkeltjie (‘n vrugtige Sauvignon Blanc) teen R30 ‘n bottel kan opraap as ek tussen Worcester en Robertson op reis is.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page