top of page
  • Izak de Vries

Vakansiekiekies: Ys in die Echo Ravine

Ná ons die Brandwag geklim het (sien vorige foto’s), het ek en die geliefde in die Echo Ravine, in Golden Gate, gaan stap. Ek het gehoop om ’n bevrore waterval te kry.

(Kliek op die foto's om hulle groter te maak.)


Dié foto is geneem net voor ons in die kloof self in is. ’n Mens kan ver sien. In die middel lê Glen Reenen en regs is die Golden Gate Hotel.

Let op hoe dik die rooi laag moddersteen op hierdie foto is, met die doloriet daarbo.

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/250 f9 ISO100 (16mm)


Dié foto is ’n paar honderd meter verder geneem, net daar waar die kloof begin. Die rooi moddersteen is sagter as die basalt wat bo-op lê. Dit is hoe reën, wind en ys hierdie kloof uit die berg gekalf het. Ek het geweet hier moes eens ’n rivier wees, en daarom het ek gehoop op ’n waterval.

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/25 f9 ISO100 (16mm)


Nog ’n entjie dieper in, kan ’n mens ook die geel sandsteen bo die rooi moddersteen sien.

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/40 f2.8 ISO100 (16mm)


Hierdie foto toon die basalt wat van die “dak” af val, of wat deur water, en vroeër ook ys, hierheen gespoel is. Die basalt is hard, so dit verweer nie so maklik nie.

Sien julle die donker, vertikale strepe? Dit is waar lawa miljoene jare gelede in die modder- en sandsteen ingeforseer is deur die geweldige druk van onder. In Engels staan hierdie pype bekend as dykes.

Let ook op die dinamiese rykwydte van die kamera. Die donker skaduwees en die helder rots vorentoe is albei belig. Jy gaan dit nie met ’n selfoon regkry nie.

Verder, as julle tegniese detail wil weet: Ek skiet in RAW en ontwikkel elke liewe foto apart. Ek pas ook die kontras aan – dikwels negatief – indien ek met sulke uiterstes te doen het. Canon se gratis sagteware (Digital Photo Professional, verskeep saam met hulle DSLR-kameras) het ook ’n landskapfunksie wat ek dikwels – nie altyd nie – aanwend in hierdie omstandighede. Ten einde laas trek ek die boonste gedeelte van die RGB-kurwe effens af en stoot die onderste gedeelte effens op. Dit is hoe ’n mens sulke kontraste op een foto kan hanteer.  (Nota bene ek skiet heeltemal neutraal, alle nodige kontrasaanpassings word in postproduksie gemaak, soos ons destyds in die donkerkamer gedoen het.)

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/40 f2.8 ISO100 (16mm)


 Net ’n entjie verder aan. Hierdie een moes ek oorbelig. Dieselfde reëls geld as by die vorige foto, maar hier het ek gekies om die lug weg te brand, sodat die skaduwees sigbaar is.

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/40 f2.8 ISO100 (16mm) +1 2/3


En toe die ys! In plaas van ’n groot waterval, kom ons op ’n druppende stroompie af. Snags, met temperature in Clarens van tot -14 grade Celsius, vries die water. In die dag kom hier nie genoeg son om dit weer te smelt nie, so nuwe water vorm eenvoudig ’n yspoel. Aangesien ys uitsit wanneer dit vorm, en aangesien dit elke nag opnuut gebeur, is dit ’n onewerige, gletseragtige gesig wat ons begroet, hier in die hartjie van die Vrystaat.

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/250 f4.5 ISO100 (35mm)


Hier staan ek op die rand van die ys. Ek het die foto geneem om skaal te probeer weergee.

Ja, ek het twee kameras saamgedra. Die een op die ys was met die hoop om voëls te kry (ek sal later een wys wat ek wel gekry het). Dit is die 7D met ’n Canon 70-200mm f2.8L USM + 1.4 aanpasser.

Ja, ek het die Brandwag kaalvoet geklim en ja ek het kaalvoet in Echo Ravine gestap. Ek hou nie van skoene nie; maar dit weet julle seker.

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/20 f4.5 ISO200 (16mm)


iFoto met iPhone. Ja, sommer.

’n iPhone neem redelike foto’s as daar genoeg lig is, maar vrot foto’s as die lig taan. Daar is ook geen dinamiese rykwydte nie, maar in hierdie geval werk die kontraste gelukkig tot die foto se voordeel. Mense wat goeie foto’s kry met ’n iPhone sal gou baie beter foto’s neem met selfs ’n eenvoudige mik-en-druk Canon, of Nikon. Maar vir nou, hier is ’n cool foto uit ’n iPhone.

* * *

2 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page