Nuwe inligting bekend! Rol af onder toe!
*
KLIEK OP DIE PRENTJIES, dan word hulle groot genoeg om die collage te kan geniet. Speel gerus soek die skrywer!

Die US Woordfees gaan in 2016 ’n bundel kortverhale uitgee. Hierdie bundel gaan slegs op die fees te koop aangebied word en sal ook net vir die duur van die fees te koop wees.
*
NUWE INLIGTING BEKEND (27 Julie 2015)
Ek haal hiermee verbatim aan uit 'n persverklaring wat ek vandag ontvang het: “Ons wil ’n bundel publiseer wat die hoë gehalte skryfwerk, waarvoor die Woordfees-geleenthede bekend is, weergee,” sê Botha. “Woorde is die boustene van ons fees, en ons dink dit is gepas om op so ’n tasbare manier by te dra tot die argivering van die Woordfees.” Slegs skrywers wat reeds in papiervorm gepubliseer is, sal in aanmerking geneem word. Die betrokke verhaal self mag egter nie voorheen gepubliseer wees nie. Die idee is om nuwe, vars werk te bevorder. “Met dié bundel literêre verhale wil ons graag die skrywers, wat ons help om van die Woordfees so ʼn reuse sukses te maak, vereer,” sê Madri Victor, koördineerder van die fees se skrywersprogram. “Maar ook vir ons feesganger dankie sê en iets unieks aanbied.” Die samestellers vir die eerste bundel, wat tydens Woordfees 2016 bekend gestel sal word, is Victor, die vryskut-uitgewersredakteur Suzette Kotzé-Myburgh en Anastasia de Vries, joernalis en lektor in joernalistiek by die Universiteit van die Wes-Kaapland. Kotzé-Myburgh is ook verantwoordelik vir die projekbestuur en taalversorging. Die bundel sal slegs tydens die Woordfees te koop wees. Victor sê slegs ’n beperkte oplaag sal jaarliks gedruk word. Indien daar bundels oorbly, sal dit tydens die volgende jaar se fees te koop aangebied word. Herdrukke sal nie gemaak word nie. Skrywers wat verhale wil voorlê, moet dit teen 30 Oktober 2015 hul inskrywings stuur aan adminfees@sun.ac.za. Vir meer inligting oor hierdie projek, kontak vir Madri Victor, sameroeper van die fees se skrywersprogram by madrivictor@sun.ac.za.
*

*
Hierdie goeie nuus is op 24 Julie 2015 deur Madri Victor aangekondig by die Lanzerac Hotel.
*
Verskeie skrywers, uitgewers en onderwysers, wat betrokke is by WOW, het dié geleentheid bygewoon.
*
By hierdie geleentheid het Fiona van Kerwel ook sommige van die suksesse van die WOW-projek gedeel en het skrywers aangemoedig om betrokke te raak by WOW.
Nie net bereik WOW meer as 100 000 skoliere elke jaar nie, hulle bied ook finansiële en emosionele steun aan verdienstelike, maar behoeftige, studente aan die US.

*
Daarna het Jana Hattingh en Saartjie Botha die suksesse van 2015 se fees gedeel, asook die doelwitte wat vir 2016 gestel is.

Comments