top of page
  • Uitmelkbos

Untitled

Seks, leuens en die internet, deur Erla Diedericks. Resensie: Karin Eloff (Rapport Boeke) Dit sou maklik wees om te sê Karin Eloff klim ’n bietjie diep in Erla Diedericks se karakter in, maar mens  moet soms ook die ou aksioom onthou: As jy jou lyf toffie hou, moet jy weet dat jy gelek gaan word. Eloff reageer baie direk op Diedericks se lewensverhaal. Miskien omdat sy so baie van die dinge self ondervind het, maar uiteindelik sien sy ook die ommekeer en die insig raak. In wese is daar geen hemelsbreë verskil tussen Eloff en Riette Rust se taksering nie; dis net die manier van hul reaksie beskryf wat verskil.

Tronkhond, deur China Mouton. Resensie: Herman Lategan. (Boeke24) Welkom terug, Herman Lategan! Voetjie-vir-voetjie. Lang opsomming van die inhoud. Sou mens anders kon? Miskien die name van Bosman en Breytenbach laat val het, maar sou dit die aandag beter gehou het? En dan, in die slotparagraaf, die blik op die man se siel, of  “die asem in die gevoelvolle verhaal”, soos Lategan dit stel: Mouton se liefde vir honde. Ja, dieselfde spesie wat Lategan aan die boud gebyt het.

Soekmekaar, deur Dana Snyman. Resensie: Koos Kombuis. (Boeke24) Koos Kombuis se naam duik nou met groter frekwensie in die koerante op as ’n jaar gelede. Hierdie een is een van sy welkome verskynings; stilisties kenmerkend van sy openhartige, direkte aanslag. Hy is bewus van die kritiek wat in die verlede teen Snyman ingebring is, en sit dan uiteen hoekom hy nie geneig is om Soekmekaar as bewysplaas vir daardie kritiek te laat brandmerk nie. Mnr Kombuis is begeester deur die boek, en dit is wat mens die langste bybly. Ander se geesdrif is aansteeklik.

Noorman, deur S.D. Fourie. Resensie: Juliana Coetzer. (Rapport Boeke) Alles in hierdie resensie irriteer my. En as ek so voel, is ek seker die skrywer self kan slange vang. Die sleutel vir my reaksie is in die slot, waar Coetzer in die voorlaaste paragraaf sê, onder meer, “Haar woorde vloei sonder inspanning en laat jou met die gevoel dat Noorman ’n lekkerleesboek is wat jy nie hoef te ontleed nie.” En dan stuur sy almal met ’n kluitjie in die riet: “Aanhangers sal beslis nie teleurgesteld wees nie, en nuwe lesers wat ouwêreldse verhale met allerlei intriges op verhoudingsvlak geniet, sal ewe lekker peusel aan die boek. Inwonders en oud-inwoners van die Strandveld sal weer ekstra waardering hê vir die herinnering van hul geliefde streeksuitdrukkings.” Was die kwasi-akademiese inleiding, die verkneukeling oor interessante taalgebruik, en die lang samevatting van die verhaal dan werklik nodig? As ’n resensent só duidelik aandui dat sy die boek as benede ernstige refleksie beskou, het mens geen ander keuse as om te voel dat jy hier taai deeg gekry het terwyl jy poffertjies gesoek het.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page