Wonder of dit dalk een van ou Mayafudi (my storieboek-olifantjie) se afstammelinge is wat sake op Wildevy 154 kom deurkyk het.
Nietemin, Mayafudi-nasaat of nie, by Tarlehoet is heelwat “spore in die bos” van ‘n nuuskierige bul se rondlopery nadat hy die drade by Carol Hughes se huis ‘n maand of wat gelede gebreek het.*
Vir Christopher (5) was daardie “spore” (gebreekte bome en ‘n omgedopte rosyntjiebos) een van die heuglike elemente van sy bosvakansie van 23 dae. Hy het telkemale sy Ouma opgeroep vir ‘n herbesoek aan daardie stukkie veld naby die grens tussen ons en die Van Heerdens van 155 met die karnuffelde bome (veral raasblare), afgeskeurde en gestroopte takke, asook aansienlike reste van olifantmis.
Van die takke is huis toe karwei om vir Oupa te kom wys. Oupa is ook spesiaal kom haal om te kom kyk na die jongman en sy ouma se “geheime plek” waar hulle groot geselse gesels het, sittende op ‘n stewige raasblaartak van ‘n mooi boom wat omtrent middeldeur gebreek is.
Deel van Christopher se genot was om Ouma keer op keer uit te vra na ‘n vorige olifantbesoek aan Tarlehoet in die lente van 2000,plus-minus in dieselfde wyke. Die destydse parkhoof, David Zeller, het vir my ‘n foto Kaap toe gestuur van die olifant met ons swembadjie en watergat in die voorgrond.
Hy het gemeen dit sou nogal ‘n plesier kon wees om in die swembadjie te lê en afkoel terwyl die olifant in jou gesigsveld wei. Vir my het die vooruitsig van skade wat deur ‘n groot olifantlyf met ‘n bedrywige slurp en yslike voete aangerig word, egter die potensiële plesier oorheers. Ek het veral gevrees dat dakpale in die slag kon bly – wat gelukkig nie gebeur het nie.
Die besoeker van 14 jaar later het genadiglik ook die dakpale uitgelos. Skade was daar dié keer wel – en nie net in die vorm van verwoeste bome nie. Oor die stukkende watergat is my hart die seerste. ‘n Groot poot het ‘n gat in die bodem getrap. So vinnig as wat jy water intap, loop dit onder uit – soos uit ‘n wastrog waarvan die prop uitgetrek is. ‘n Nuwe sementvoering word benodig. Hopelik sal die sebras (en ander wild) daarna terugkeer om weer by die Van D’s ietsie vir die keel te kom geniet.
Eienaardig genoeg was dit natuurlik nie olifantskade waarop ons voorbereid was toe ons op Woensdag 30 April by Tarlehoet inswaai nie. Dit is vir die omvang van die likkewaanskade waarvoor die harte in die Honda-tjie vasgehou is.
Ta het hom mos vroeër vanjaar iewers ingewurm – waarskynlik tussen die muur en die gras van die dak – en uiteindelik skynbaar wanhopig begin raak toe hy nie sy pad na buite kon vind nie. Eers nadat hy ‘n taamlike versameling breekware in stukkies op die vloer laat beland, ‘n paar fotorame van die muur geruk en een van die kombuisgordyne se voerings aan flarde geskeur het, is hy op heter daad betrap en taamlik onsag verwyder.
Gelukkig het die huishulp Lucy mooi kom skoon maak – ook al die likkewaanmis van sy wekelange huis-arres – en die flenters in ‘n sak vir ons gelos om deur te snuffel. Dit het die impak heelwat minder gemaak.
Dat ‘n huis in die bos nie altyd net louter vreugde is nie, behoort uit bogenoemde duidelik te wees. Moet ek byvoeg dat die bobbejane boonop sedert ons vorige besoek die stoeplig uit die muur geruk en die vloedwaters van Februarie taamlike dongas in ons motorpad oopgespoel het?
(Carol Hughes vertel dat dit nogal ‘n aardigheid was toe die olifantbul die elektriese heining voor hul huis laat klap het. Die skrik en die elektriese skokke het die ou woes laat trompetter. Haar kleinkinders wat op besoek was, het hulle omtrent uit hul geloof geskrik waar hulle styf teenaan ouma die hele gedoente van hul huis aan die Sabierivier betrag het.)
* Spore in die bos – titel van my e-boekie.
Comentários