top of page

UMSHINI BOGGOM!

Uitmelkbos

Die keuse van musiek by ‘n geleentheid kan nogal insiggewend wees van die geaardheid, voorkeure en gesindhede van mense.

By ‘n bruilof kan die dansbaan geopen word met ‘n Strauss-wals of “A Little Bit of Monica”. By ‘n begrafnis kan Frank Sinatra se “My Way” opklink of die somber gemeente prewelend sing: “O Heer, my God, as ek in eerbied wonder …”

By die bobbejaanmoles op die foto hierbo het die slagoffer sy kitaar uitgepluk en losgetrek met “Bobbejaan maak amok …” So lees ek in “Radio Tygerberg” se oulike tydskrif “Indruk”.

Ek is nie verras nie. Die slagoffer was Sedrick Taljaard, ‘n oud-Persman wat hom nou by “Radio Tygerberg” bevind, en wat aan my bekend is as ‘n gemoedelike, joviale, lewensblye mens. Hy hou van sy kitaar en sing graag. By ‘n kerkkonsert het hy ‘n keer ‘n gesimuleerde rendisie gelewer van Nicolis Louw se “Ek soek my baby vanaand” (as ek die titel reg onthou). Die konsertgangers het vreugdevolle applous uitgebars.

Ten tweede lyk daardie kombuis op Bettiesbaai bra chaoties, maar sien ek geen strukturele skade nie. So liggies kom Sabiepark-eienaars nie sommer af nie. “Ons” bobbejane is ‘n nare lot. Hulle breek gewelddadig by huise in en plunder op n groot skaal. Met my vorige vakansie (in Julie/Augustus) is minstens drie huise so verwoes dat bouers, skrynwerkers en verwers ingeroep moes word vir die herstelwerk.

Skuifdeure is uit hul spore geruk en kaste uit die mure. Mure is besmeer met onwelriekende “visitekaartjies” waarteen gewone seep en water nie opgewasse is nie. Boonop is breekgoed versplinter en meubels met hul lelike geel slagtande geskeur en andersins beskadig.

In “Die Burger” lees ek agt kese is in die laaste drie maande ingevolge twee “protokolle” van die gras af gemaak: een vir bobbejane “wat gewoond geraak het aan mense en herhaaldelik huise stroop”. Ons soek daai “protokol” in Sabiepark met ‘n seer hart!.

Intussen sing ons Sabieparkers nie “Bobbejaan maak amok” nie. Ons sing saam met Jacob Zuma “Umshini wami” (bring my masjiengeweer)! Wam, wam – klaar met kees!

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page