Klimtol, deur Etienne van Heerden. Resensente: Willie Burger en Annemarie van Niekerk. (Boeke24) Na die lees van Klimtol het ek gedink aan een van die refreine in Brendan Behan se The Hostage, wat lui “there’s no place on earth like the world”. Klimtol het ‘n groot indruk op my gemaak. Ek het gewonder wat die resensente daarvan sou maak. Die antwoord, tot dusver, is baie. Goeie skryfwerk, sien ons dikwels, spoor resensente aan om bo die patrone uit te styg. Hoe sou ‘n resensent van Pretoria, en een van Den Haag, lees aan Etienne van Heerden se Paternoster-roman?
Willie Burger se resensie begin met ‘n opsomming van die verhaal. Maar gou sien mens dis net ten dele. Algaande bring hy Klimtol in verband met Van Heerden se ander romans, wys hy tematiese ooreenkomste, wys hy op aanvullings en voortsettings. En wanneer hy daarmee klaar is, sien jy dat welke groot hoeveelheid kritiese reaksie en ontleding opgesluit lê in sy resensie. Hier, besef jy, is die aanknopingspunt vir enige akademiese behandeling van Klimtol, en sal dit nog lank bly. Wat ‘n puik resensie!
Annemarie van Niekerk se respons is ewe belangrik. Sy lig meeste van die dinge uit wat Burger aanstip, maar haar hoek is ‘n bietjie meer afstandelink. Sy gee inligting oor die verhaal, maar net om tematiese elemente te kan belig. Waar Burger sterk fokus op Klimtol as roman binne ‘n oeuvre, is Van Niekerk meer geïnteresseerd daarin om dit binne ‘n tradisie te plaas – Hemingway en Mda is die twee name wat sy noem. In haar laaste paragraaf noem sy net sommige van die dinge wat Burger meer pertinent uitspel. Van Niekerk s’n is eweneens ‘n besonder knap resensie – veral omdat sy en Burger in hul interpretasies mekaar se sienings bevestig.
Albei benaderings is uiteraard geldig: die indringende kyk binne die oeuvre, en die wyer kyk binne die letterkunde. En dit is wanneer ‘n mens sulke resensies lees dat jy besef watse belangrike rol iets soos Boeke24 speel binne die kring van die Afrikaanse taal.
Comments