Van my eerste aankope.
Die eerste keer in donkiejare het ek my half-vergete langspeelplate een vir een uit die stokou radiokabinet in my studeerkamer gehaal. Meesal “U Eie Keuse”-musiek het uit die stof gekom. My versameling is nie groot nie – so 60-stuks. Dit dek tog ‘n wye spektrum.
Van ‘n Beethoven-simfonie, via ouvertures, operas, musiekspele, koorwerke, Kersmusiek, Strausswalse, dansmusiek tot “Hits of the 50’s” met mense soos Elvis op volle stoom. Selfs David Kramer, Nico Carstens en Dimpel Pretorius duik op …. asook Gerhard Viviers wat ‘n rugbytoets teen die All Blacks uitsaai: “Siddie, Siddie, Siddie!”!
Van die sekstet uit Lucia di Lammermoor tot Rock Around The Clock, Be Bap Alula en Jailhouse Rock het ek op plate. Sangers is o.a. Bjoerling, Tauber en Joseph Schmidt; Nat King Col, Dean Martin en Frank Sinatra; Joe Dolan. Kore sluit in die Gunther Kahlmankoor (Elizabeth Serenade). Onder die sangeresse is Edith Piaf, Barbara Streisand en Nancy Ames. Sommer dadelik Nancy se Cu Cu Ruu Cu Cu Paloma op die draaitafel gesit. Hemels.
Woordeboekman Frikkie Lombard van Stellenbosch was die dryfveer. Op Facebook onthou hy “met watter gevoel van afwagting ‘n mens ‘n nuwe plaat uit sy omslag getrek het, dit op die draaitafel geplaas het en die volumeknop oopgedraai het — ‘n plegtige ritueel!” Met die ewe veel afwagting het ek Saterdagmiddag begin plate afstof vir my ontdekkingsreis – ‘n ware “trip down memory lane”, as ek ‘n Engelse uitdrukking mag steel. Herinneringe het teruggespoel.
My Fair Lady troon uit in ‘n pakkie van musiekspele. Die langspeler het ek vir Tokkie present gegee toe sy, bloedjonk, in 1965 saam met my ouers vir my in die Kaap kom kuier het. Ons is teater toe vir ‘n opvoering van die klassieke blyspel. In die foyer kon jy o.m. plate van die klankbaan koop.
Edith Piaf, “Mossie van Parys” van die 30’s en 40’s, se Homage A Piaf het ons as trougeskenk van studentemaat Jan-Jakob de Jager gekry. Een snit is die meesleurende Milord – die eerste stukkie musiek wat ek vir Tokkie op die draaitafel gesit het toe sy, nog jonger, in 1964 haar voet die eerste keer in my woonstel in La Gratitude in Bloemfontein sit.
‘n Derde geskenkplaat is een van Clayderman wat Johan vir Tokkie op ‘n verjaardag in Bloemfontein gegee het. Netjieser as gewoonlik het hy op die omslag geskryf: Baie geluk van Johan. Ons oudste het pas koerante begin aflewer. Die plaat kom as’t ware uit sy eerste tjekkie.
Op ‘n geskenkplaat van Lufthansa rondom 1970 is ‘n opname van Stille nacht deur die Bielefelder Kinderchor. Dis vir my een van die mooistes wat ek al gehoor het.
Ook Kersmusiek na aan my hart is op ‘n platestel wat heet A country style Christmas. Met die sneeu omtrent tot by ons enkels het ons in die winter van 1976 in Boston ‘n platewinkel opgesoek om die kosbare soewenier aan te skaf. O holy night deur George Beverly Shea is meesterlik.
In my versameling is twee Russiese plate – een met Russiese opera-arias; een ligter van aard. Het dit in die jare 80 in Kiëf in die Oekraine op ‘n besoek agter die destydse Ystergordyn in ‘n afdelingswinkel gekoop. Ons gids, Svetlana, het op ‘n stukkie papier vir my neergepen: Help tog die man. Hy soek Russiese musiek.
Van my eerste plate wat ek as jong verslaggewer by Die Volkslad aangeskaf het, was 45 rpm’s: operakore, die kwartet uit Rigoletto, Bjoerling se Nessun Dorma en ander. Het lief geword vir dié musiek in my eerste jaar op Tukkies. Veral Verdi het in my hart gekruip. My ouers het vir my hul ou radio present gegee. Daarop graag geluister na “World Famous Tenors” en sulke programme. Mooi musiek is altyd beter as “swot”!
Heelparty van my eerste aankope is geinspireer deur rolprente, soos The Student Prince. Mario Lanza se Drinklied was ‘n gunsteling. Natuurlik ook die studentelied Gaudeamus Igitur.
Ek was half uit die veld geslaan deur al die dansmusiek. Al het ek op Tukkies ‘n poeierblou tuxedo besit, was ek nooit juis ‘n danser om van te praat nie. ‘n Stel van drie, amper ongebruik, met oorwegend Duitse dansmusiek was beslis ‘n veel latere Lufthansageskenk. Glen Miller is darem ook daarop. En Ray Charles.
En die rugbyplate? ‘n Geskenk toe hy sy draaitafel wegmaak van my Melkbosse vriend Sakkie Bruwer, seker die grootste rugby-entoesias wat ek ken. Onder my Sakkieplate is nie net Gerhard Viviers se opgewonde kommentare nie. Ook Johan Claassen se roerende afskeid van Frik du Preez en Hannes Marais. En David Kramer se Blokkies Joubert.
Die storie van Blokkies Joubert is van ‘n vergete rugbyheld wat die skemer van sy lewe omkuier in die Royal Hotel. Ou Blokkies se melancholie vind op hierdie oomblik by hierdie ou man nogal aanklank. Dis vergange tye se plate-oes wat my so kwesbaar maak vir bewoëndheid.
Comments