Uit Manie se laai (vorige blog) kom ook foto’s van studentemaats wat – ai, hoe treurig stem dit ‘n mens – reeds langboompies toe is.
Een van hulle is die lang, rateltaai Hennie Smit op wie se skouers die uwe hier so uitgelate sit, en ‘n ander, Piet Lategan (met die blou hemp). Die foto is na ‘n la-a-a-a-ang braai by Orkney-Vaal langs die roosters geneem.
Oor Hennie (die Hoenderboer) en Piet (Gandhi) skryf ek albei in my boek “Byl in my bos” waarin ek persoonlike herinneringe opdiep van bome wat al uit my bos gekap is.
Oor Hennie, vertel ek van die kombuiskaste wat hy sukkel-sukkel op een been vir sy vrou, Lettie, na haar dood voltooi het om sy belofte aan haar na te kom.
Piet se storie is nogal humoristies – hoe hy een aand deur ‘n blondine wat hy by ‘n rugbywedstryd opgetel het, in die inryteater van sy beursie be-vry is.
Manie se liewe vrou, Sannie, is ook al oorlede en figureer ook in “Byl”: as ‘n model-ouma.
Tempus fugit – ja, die tyd vlieg.
Comments