top of page
  • Chomsetussenbetragtings

Tyd vir iets ernstigs...

Iemand het erens die afgelope week in 'n kommentaar by my gevra dat ek die stuk wat ek vir Moedersdag vir ons publikasie geskryf het, hier ook pos. Hier is dit dus. (Dit het soortvan rerig gebeur, so twee jaar gelede...) **************** Algaande leert ma’s


Sy’s ’n wyse ene, sy.

Ek luister graag na haar, want die le­we het haar reeds goed gelou­ter.

My keel is nog dik van emo­sie toe sy haar doku­mente ske­mer­tyd die Vry­dag­mid­dag by my kom haal.

Sy seer­woorde hang nog in die lug, en in my lyf. Die dawe­ren­de klap van sy ka­mer­deur ook.

Ons praat sommer gou ons pra­te oor die werk wat ek vir haar ge­doen het daar bui­te op die sy­paadjie. Sy weet al van beter as om te dink sy gaan my daar­voor betaal — daar­voor skuld ek háár al te veel.

Ek nooi haar in vir ’n glas wyn, maar sy’s haas­tig. Ek is heim­lik bly. My bin­ne­huis­goed het ek nog nooit op my elm­boog rond­ge­dra nie, maar ek ken my­self — my vul­kaan is ge­reed om sy vuil as die lug in te blaas. Op die eers­te die bes­te ge­wil­li­ge luis­te­raar.

Maar sy ken my ook. Te goed.

Ek kry nie die woorde uit nie — ek dink nie daar be­staan woor­de vir hoe ek voel nie. En die moont­lik­heid van er­ken dat “moe­der­skap” en “mis­luk­king” in hier­die sta­dium vir my die­self­de ding be­te­ken, is nie eers ’n op­sie nie.

Sy’s elk­ge­val te slim en te vin­nig, en ons twee kron­kel al te lank saam op me­kaar se paaie. “Al­weer jy en jou tie­ner?”

Ek kyk ander­koers. Ek kry skaam. Hy was dan nog al­tyd hierdie mo­del­kind…

Sy vroetel met haar kar­sleu­tels in haar hand. Vryf die klein sil­wer krui­sie aan­me­kaar tus­sen twee am­per-ar­tri­tis vin­gers, so as­of sy my seer­kry en skaam­kry op só ma­nier wil weg­poets.

Sy weet baie goed ek ver­dra nie sim­patie of soet­sap­pige aan­ha­lings nie. Nog min­der clichés soos “moe­nie be­kom­mer nie, al­mal gaan daar­deur — dis net ’n sta­dium”.

“Ai suster,” sê sy, terwyl ons al­bei kwan­suis die bure se hon­de se bal­jaar­de­ry langs­aan be­kyk, so­dat ons nie oog­kon­tak hoef te maak nie. “Tie­ners het ’n spe­sia­le ma­nier om ’n ma se hart aan flar­de te trap. Daar kom tye wat jy jou nie kan in­dink dat daardie bot, be­ter­we­te­ri­ge mons­ter vlees van jou vlees en bloed van jou bloed is nie.”

Sy ver­se­ker my dat dit gaan ver­an­der, een of ander tyd. Haar woor­de klink hol, on­oor­tui­gend, maar ek glo haar — sy het im­mers self drie sulke mons­ters al­leen groot­ge­slaan.

Ek sien sy wik en weeg, so asof sy be­sig is om haar vol­gen­de woor­de in rye te pak. Dan be­dink sy haar, en kies ’n ander koers.

“Is hy hier?”

“Ja, jy weet mos... al­tyd aan die peu­ter op sy re­ke­naar. Hy’s mos maar ’n huis­muis, soos sy ma.”

My eie woorde eg­go in my kop. Ook nie net een keer nie.

Hy is by die huis. Nie in Lon­den of Austra­lië nie, nie in Jo­han­nes­burg of ’n dwelm­hool of ’n klub of ’n hoer­huis nie. Ek weet waar my kind is.

Ek skrik vir die erns waar­mee ek skaars ’n half­uur ge­le­de ge­wens het hy is nie deel van my le­we nie. Vir die om­vang van my stik­sie­nig­heid, dat ek ge­du­rig kies om te ver­geet van die goeie tye. Nie eers vir hom ge­bid kan kry nie.

Sy sien dit gebeur. “Jy OK?”

“Hmmm. Net skaam.” Haar oë wys vir my sy was self al daar.

Ek dwaal doel­loos in die tuin rond na­dat sy weg is. Maak die voël­bak vol water, breek dooie bla­re uit die struik langs die voor­deur, son­der om juis agter te kom wat ek doen.

Beelde van hom, só per­fek geskape, as hy op­draf op die rug­by­veld, of met el­le­lange treë straat­af loop saam met sy vrien­de, doem by my op. An­der se kom­pli­men­te oor sy goeie ma­nie­re en sy Jobs­ge­duld met steek­se re­ke­naars vind hulle weg te­rug in my ge­moed in.

Die rits foto’s van hom in die gang op pad na sy ka­mer toe is skie­lik splin­ter­nuut vir my. Van tan­de­lo­se krul­kop­ba­ba tot blink­oog-kleu­ter tot fier en trots­reg­op in sy eers­te­span­kle­re.

Wan­neer het ek op­ge­hou om hom te ken? Of te wil ken?

Ek klop aan sy deur.

“Seuna? Kan ek in­kom?”

0 views

Recent Posts

See All

Net 9 disse?

Kom ek op hierdie interessante berig in die Sowetan af vandag, en herken myself toe baie goed! Alhoewel die studie onder die Britte...

My kortverhale (wow, dit was pret!)

Hy klap die agterdeur met 'n dawerende slag agter hom toe. Sy bly op die vloer sit, en vryf oor haar brandende wang. *** "Mamma, waar's...

Joeeeeehoeeee! Ek's terug! (dink ek...)

Hallo liewe blogvriende! Ja, vir die eerste keer in VIER maande het ek weer soortvan internettoegang! Dankie vir die van julle wat my nie...

Comments


bottom of page