top of page
  • Uitmelkbos

TWEE SLUIPMOORDE

OM 20:30 op Vrydagaand 22 November 1963 was Die Volksblad (nou Volksblad) se gebou in Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) in Bloemfontein grootliks in donkerte gehul.  Die koerant was toe nog ‘n middagblad.  Die enigste twee lewende wesens in die redaksiekantoor was Smittie (Smit), die teleksman, en die uwe, ‘n jong verslaggewer. 

 Smittie was in die telekskantoor bedrywig. Die teleksman se taak was om die kletterende masjiene aan die loop te hou, asook om inkomende berigte af te skeur en te sorteer: hierdie vir die hoofsubredakteur, daardie vir die sportkantoor, afskrifte vir die assistant-redakteur, en dies meer.  Van Deventer was besig om ‘n Kersfondsberig vir die volgende dag op sy hoë Remington met die oneweredige letters uit te timmer.

 Teen 20:40 het Smittie ingebars by die subkantoor waar ek sit en werk het.  In sy hande was ‘n flitsberig van Sapa (Suid-Afrikaanse Pers-assosiasie), komende van die Associated Press (AP) van Amerika: Pres. John F. Kennedy is in Dallas, Texas, uit ‘n hoë gebou in sy oop ampsmotor in ‘n amptelike konvooi deur die strate van Dallas doodgeskiet.  Dit was om 12: 30 Amerikaanse tyd. Die tydsverskil tussen Dallas en Suid-Afrika is agt uur.

 Ek het opgewip en langs Smittie in die naburige telekskantoor gaan staan terwyl Sapa se masjiene soos masjiengeweervuur bly dawer en die drama in Dallas hom in al sy ondenkbaarheid ontvou.  Dit was leesstof wat ‘n mens onwillekeurig laat ril het. Ná ‘n ruk het dit tot my deurgedring die skoknuus is nie vir my en Smittie se eksklusiewe kennisname nie.   Ek het die stoute skoene aangetrek om die assistent-redakteur, “Oom  Bart” Zaaiman, by sy huis te bel.  Ons het seniors daardie tye links en regs ge-oom. Daar was ook ‘n “Oom Gert” Terblanche,  die nuusredakteur. 

 Verskonend het ek verduidelik dat ek gewonder het of hy nie van die sluipmoord sal wil weet met die oog op die volgende dag se koerant nie.  Die middagkoerant was immers Saterdae eintlik ‘n laat oggendkoerant wat teen 11;00 op straat was.  Om dit te vermag, het die hoofsubredakteur teen 05:00 ingeval; sy spannetjie subs kort daarna.   Een Saterdaghoofsub, Ollie Olwagen, het selfs party Vrydagaande op die grond in die subkantoor geslaap om tog net nie laat te kom nie!

 “My magtig, Hendrik!” het “Oom Bart” uitgeroep.  Hy was nie ontsteld oor my “voorbarigheid” nie; het my inteendeel oorvloediglik bedank vir my “prysenswaardige insig” om hom in te lig. Hy het dadelik op die telefoon gespring en begin span saamstel vir ‘n spesiale poging.  Ek, wat nie die Saterdag sou werk nie, is as vertaler opgekommandeer.  Die Kersfondsberig het vergete gebly.  Maandag was nog ‘n dag …

 Een van die berigte wat die Saterdagoggend deur my Remington is, was oor Jackie Kennedy se smartlike ervaring. Die mooi jong weduwee het haar sterwende man se kop in haar arms gehou (“cradled his head in her arms”, het AP berig) terwyl met sy Lincoln na die hospitaal gejaag is.  Ek het vertaal sy was “bloedbesmeerd”.  Die gewoonlik besadigde “Oom Bart” het ongeduldig oor my skouer geloer en blaadjie vir blaadjie uit my tikmasjien na die hoofsub aangedra om die banieropskrifte en ‘n plakkaat te prakseer. Hy was nie ingenome met my woordkeuse nie. “Bloedbekoek, man!”  het hy ge-adviseer. “Bloedbekoek”, het dit geword. WAT neem kennis!

 Terwyl ons na die eerste uitgawe ons tradisionele geroosterde kaas-, tamatie- en hamtoebroodjies van die delikatesse Grinters op die hoek geniet, was hierdie jongeling in die sentrum van sy ouer kollegas se belangstelling, wat hom nogal gevlei het. Ek moes haarfyn vertel van die eerste flitsberigte en die onafgebroke stroom kopie wat vir Smittie op sy tone gehou het tot in die vroeë oggendure, toe dit ‘n kort rukkie afgebreek het om later weer met nuwe kartetse op koerante te reën.

 As ek terugkyk, kry ek opnuut nagmerries oor die amperse flater wat ek uit respekvolle skrikkerigheid vir die “baas” begaan het. As ek “Oom Bart” nie gebel het nie, was ek dalk vandag in Volksblad-folklore wat die Associated Press se Jack Bell by die AP geword het. Die stomme Bell het  hom deur United Press International (UPI) se man, Merriman Smith, sleg laat troef.  Merriman Smith het eenvoudig die enigste radiotelefoon in die amptelike persmotor ge-annekseer en bly vasklem ondanks die paniekerige Bell se wanhopige houe op sy rug om hom darem ook ‘n billike kans te gee. Bell was daarna nie ‘n held nie.  Sy loopbaan het ‘n duik gevat.

 Van daardie intrige in die persmotor het ek eers later jare bewus geword.  Die paar minute waarmee Smith vir Bell geklop het, was uit ‘n Suid-Afrikaanse hoek in elk geval nie juis noemenswaardig nie. Maar in  joernalistieke terme is minute natuurlik goud werd, veral in die uiters mededingende Amerika, en natuurlik deesdae des te meer met al die elektroniese media wat tot elke prys eerste wil twiet.

 Ongetwyfeld was die sluipmoord op die Amerikaanse president die grootste “Saterdagstorie” van my era as joernalis. Daarmee bedoel ek ‘n storie wat, in joernalistieke idioom, vir die Saterdagkoerant “gebreek” het. Interessant genoeg, het net die volgende jaar, 1964, nog ‘n grote opgelewer toe John Harris op 24 Julie 1964 die berugte stasiebom in Johannesburg laat ontplof het. Teen daardie tyd het ek al teen die leer op begin vorder. Ek was een van die subs wat berigte oor die stasiebom geredigeer en van opskrifte voorsien het.

 Die grootste” koerantstorie van my loopbaan by koerante (1963 tot 1997)?  Dit was ongetwyfeld die sluipmoord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966, wat ‘n Dinsdag was.  Die impak van die gebeure van 1992 en daarna, met die ontperking van die ANC, die vrylating van Nelson Mandela en die eerste demokratiese verkiesing, was natuurlik enorm.   Maar suiwer as onvergeetlike joernalistieke lewenservaring hou niks vir my kers vas by die ontvangs van daardie flitsberig uit die hande van teleksman Bennie Lean en die uitgee, onder enorme emosionele en tydsdruk, van ‘n spesiale uitgawe met die opskrif “Verwoerd vermoor” in groot swart houtletters nie. Toe die rolpers begin draai, was Voortrekkerstraat reeds ‘n miernes van ‘n nasie in rou, wat wag om deur hul koerant ingelig te word. 

Ook dit is nooit weer geëwenaar nie.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page