top of page
  • Uitmelkbos

TWEE GLASIES OP F.W. DE KLERK

Vandag, 2 Februarie 2010, is die fokus op daardie onvergeetlike dag, 2 Februarie 1990, toe die Volksraad gemesmeriseerd geluister het hoe F.W. de Klerk stap vir stap die land onomkeerbaar sou verander.

Dit was natuurlik dag en datum presies ‘n jaar nadat De Klerk verrassend in die afgetakelde P.W. Botha se plek leier van die Nasionale Party geword het.

Ons vier dus vandag nie net ‘n 20-jarige herdenking nie, maar ook ‘n 21-jarige – vir diegene wat glo dat op eersgenoemde ‘n glasie geklink moet word, ‘n goeie rede vir twee glasies. Ekself klink twee. Maar 2 Februarie 1990. Ek was in daardie stadium nog redakteur van Die Volksblad. Anders as gewoonlik, met die opening van die Volksraad, het ek in Bloemfontein op die openingstoespraak gewag, eers opdragte gegee oor die hantering daarvan – “maak die skouers oop!” – en toe met ‘n tevrede hart op die Boeing Kaap toe geklim vir die tradisionele redakteursbesoek aan die begin van elke parlementsitting.

Die satisfaksie was enersyds weens die geloof dat De Klerk die regte dinge doen om die land van sekere rampspoed te red. Andersyds was sy aankondigings meer as net ‘n tikkie salf vir die eie joernalistieke ego.

F.W. het die Afrikaanse koerante reg bewys! Vir politieke opponente binne en buite die parlement, ons kollegas in die Engelse pers, selfs vir sekere NP-ondersteuners, sou ons lekker kon koggel: “Ons het julle mos gese!”

Afrikaanse koerante het immers toe al lank betoog dat Suid-Afrika onder die NP-regering op ‘n opwindende nuwe koers is, en dat reeds onder P.W. Botha die fondamente gelê is vir een onverdeelde Suid-Afrika met een burgerskap vir almal, en met reg tot deelname vir almal aan politieke besluitneming op alle vlakke.

Skeptici wat volhard het dat dit alles net vae woorde is, dat dit kosmeties is, dat die “ou aparatheidsparadigma gekontinueer word”, se wind is vir eens en vir altyd uit hul seile geneem.

Laat my dadelik toegee dat daardie F.W.-pakkie hervormings waarskynlik ‘n groter kwantum-sprong verteenwoordig het as wat die meeste van ons in daardie stadium verwag het. Maar dat dit ons onverhoeds betrap het, is ook nie waar nie.

Vir redakteurs wat begin vrae vra het oor waarheen ons nou werklik op pad is, het De Klerk kort tevore in ‘n inligtingsessie in Tuynhuys liggies berispe: “Julle moenie nou begin skrik vir die goed wat julle al hoelank bepleit nie!”

Die val van die Berlynse muur in Oktober 1989 het klaarblyklik ook sy hande losser gemaak.

Ekself het ‘n maand later by ‘n beraad met die ANC in Parys vir die ANC-afgevaardigdes gesê: “Maak vas julle gordels; hier kom ‘n ding.”

Daardie beraad was 18 maande nadat ek Thabo Mbeki in Londen ontmoet het, en die chemie tussen ons dadelik begin werk het. Spruitende daaruit was Die Volksblad die eerste Afrikaanse koerant van betekenis wat in ‘n simpatieke profielberig op sy middelblad die pyprokende Mbei aan sy lesers bekend gestel het as “ n pragmatiese strateeg.” Later het Die Volksblad hom Bloemfontein toe genooi om met geslote deure vertroulik met gemeenskapsleiers te kom gesels.

Ondanks alles wat gebeur het, en die baie kritiek wat ekself op aspekte van die nuwe bedeling het, verklaar ek vandag sonder huiwering: ek glo dit was die enigste koers. Ek voel steeds ongekwalifiseerd positief oor my koerant se opbouende rol in ‘n kritieke tyd. Ek het ook een vurige wens. Dit is dat die baanbrekerswerk van die Vrystaatse koerant in aanloop tot 2 Februarie 1990 die een of ander tyd die groter erkenning sal kry wat hy daarvoor verdien.

(Oor die vrylating van Nelson Mandela vertel ek in ‘n volgende blog ‘n”vertroulike” storie.)

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page