top of page
  • Uitmelkbos

TWEE EENDERSE SKURKE


Kol. Swannell (onder) dwing ‘n bebloede Boer om ‘n sersant se skoene te lek.



Die slagter van St. Helena en die slagter van die Soutpansberg – die twee is as ‘t ware vinkel en koljander. Staan nader Kolonel Swannell, sluwe, wrede anti-held in die ABO-rolprent Modder en Bloed. Dan ook luitenant Harry (Breaker) Morant wat in dieselfde ABO in die Louis Trichardt-kontrei ‘n bose skrikbewind gevoer het.

Die twee, albei gewetenlose oorlogsmisdadigers wie se skietvinger gedurig gejeuk het, kom (toevallig?) uit daardie verre land Doer Onder waar soveel Suid-Afrikaners ‘n nuwe lewe gaan maak het: Oss-Stray-lee-uh!

Ek het vandeesweek na Bloed en Modder gaan kyk. Die fliek is bloedstollend, meesleurend en briljant. Plek-plek moes ek hande voor my oë hou. Die roue wreedheid van oorlog wou darem net te erg raak vir vlees en bloed. Ander plekke wou my keel droog word, en by nog ander my oë klam. Toe ek uit die teater stap, het ek in elke vesel die impak van die aangrypende ABO-storie gevoel.

Die rolprent is deels op die waarheid gegrond en handel oor ‘n strafkamp op die barre St. Helena waar die haatlike kol. Swannell (Grant Swanby) die septer swaai. Die Boere word aan die ergste mishandelinge en ontberings onderwerp. Aangrypend word hulle saamgesnoer tot ‘n gedugte eenheid, wat – simbolies – die Britse mag op die rugbyveld verslaan in ‘n kritieke wedstryd wat vir ‘n jong Boertjie lewe of dood beteken.

Kol. Swannell gaan uit sy pad om hul missie feitlik onmoontlik te maak. Van hul oefensessies moes in stikdonker geskied. Een van hul sterspelers word op die vooraand van die wedstryd “uitgehaal” en sy lyk voor hulle uitgestal om hul moed te breek.


Wendrie vir die Boere.


Swannell is meer fiksie as werklikheid, raai ek. Party mense sal moontlik meen hy word darem te boos uitgebeeld; dat geen enkele mens (selfs nie ‘n Australiër!) soveel kwaad, woede, onmenslikheid en kille sinisme in sy lyf opgehoop kan hê nie.

Dit is waar Breaker Morant in die prentjie kom. Die skrikbewind wat dié Australiër van Mei 1901 tot April 1902 in die Soutpansberg gevoer het, bewys immers dat sulke Aussie-barbare wel die Britse uniform in die ABO gedra het.

Morant het in in ‘n stadium in sekere geledere in die land van sy geboorte, Australië, amper volksheldstatus geniet. In velerlei boeke en rolprente is hy as net ’n sondebok vir groter Engelse onheilighede of as romantiese kwasi-held uitgebeeld. In ‘n stadium is selfs ‘n beweging op tou gesit om hom postuum kwyt te skeld van al die midade waaraan hy deur ‘n krygshof skuldig bevind is.

‘n Engelssprekende toergids en amateur-geskiedskrywer van Louis Trichardt, Charles Leach, het dit ‘n lewenstaak gemaak om die Australiese legende te ontmasker. In sy boek The Legend of Breaker Morant is Dead and Buried: A South Afri¬can Version of the Bushveldt Carbineers in the Zoutpansberg, May 1901 - April 1902 gee Leach ’n broodnodige Suid-Afrikaanse perspektief. Die wandade wat tot Morant en sy regterhand, Peter Handcock, se uiteindelike skuldigbevinding deur ’n krygshof en teregstelling deur ’n vuurpeloton gelei het, word een vir een uitgelig.

’n “Blerrie Rooinek-toergids” wat vir hom nuwe insigte oor sy eie plaaslike geskiedenis gebring het, het ‘n vriend, Manie Eloff, Leach tong in die kies genoem nadat sy boek in 2012 na sewe jaar se navorsing verskyn het. Ook vir hierdie afstammeling van Boerestryders in die Vrystaat (my Oupa Visser was ’n krygsgevangene op Ceylon) het Leach inderdaad die gordyn weggeskuif.

Die gebeure agter die “Soutpansberggordyn” was aan my net vaagweg bekend. So vaag, ek was onder die indruk die naam Morant word Meurant gespel en die naam van Peter Handcock sou geen klok lui nie. (Die charismatiese Morant is glo as Edwin Henry Murrant in Bridgwater in Somerset, Engeland, gebore en het later in Australië sy bynaam van “Breaker” gekry oor sy vaardigheid met perde.)

Leach se boek is uiters professioneel deur homself uitgegee. Dit openbaar hoe in die laaste fase van die oorlog van twee jaar en agt maande – verskuil agter geografiese, historiese en dalk ook emosionele ontoeganklikheid – een van die pynlikste hoofstukke van die oorlog hom in die Soutpansberge afgespeel het.

In ’n bloedige skrikbewind deur die sogenaamde Bushveldt Carbineers van Morant is ongewapende of siek Boere, bibberend weens koors, selfs onder die wit vlag meedoënloos neergevel, soms tot agt op ’n slag. Op weerlose vroue en kinders is roekeloos losgebrand; C.H.D. Heese, ’n onskuldige sendeling met al sy “papiere”, is koelbloedig vermoor; swart mense is voor die voet afgemaai.

Op 5 September 1901 is in ’n buitengewoon nare gruweldaad in die Mooketsivallei op Boerewaens begin vuur, terwyl vroue en kinders se opgeruimde gesels opgeklink het. Twee Grobler-boeties van 14 en ses jaar is in mekaar se arms doodgeskiet. Hul negejarige sussie is ernstig in die nek gewond.

Kan ‘n mens so wreed wees? Luitenant Breaker Morant was. En as ‘n Breaker Morant werklik geleef het, hoekom nie ook ‘n kolonel Swannell nie? Laasgenoemde se duistere karakter word deur eersgenoemde skurk geloofwaardigheid gegee, glo ek.

(In die werklik lewe is Swanby nie ‘n “kakie” of “Aussie” nie, maar ‘n Suid-Afrikaner in murg en been. Hy en die akteur Stian Bam, Boereheld in Modder en Bloed, is, ironies genoeg, al vriende sedert Swanby die skrywer Jack Cope gespeel het teenoor Bam se André P. Brink in Altyd Jonker (2006). Die ABO is ook nie aan hom onbeklend nie. Hy het die geskiedenis van die oorlog nagevors ter voorbereiding van sy wederhelf Nicola Hanekom se plekspesifieke produksie Land van skedels vir Aardklop in 2013. Dit het ook gehelp om ’n voorafstorie vir sy karakter te ontwikkel, sê hy.)

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page