Jy is buitengewoon as jy nie, soos amper almal om jou, ‘n “trooskombersie” of meer het nie. Of dit nou ‘n verslete ou baadjie, ‘n knipmes met ‘n stamboom of ‘n geliefde pyp is (manlik); serpies (Hilda van Sewende Laan), ‘n handsak of ‘n stukkie spesiale juweliersware (vroulik), of ‘n verrinneweerde teddiebeertjie (kind) – so klou die meeste van ons vas aan dingetjies wat vir ons sentimentele waarde het, en wat dikwels net vir ons mooi is.
Kyk maar na die TV-advertensie van “Goggatjie” se skeerbeker van Absa I-Direct op TV. Sy huis is rot en kaal besteel, maar “Goggatjie” dink dadelik aan die veiligheid aan sy bekertjie met die skerpneus-gesig wat seker ‘n lang pad saam met hom gekom het. Dan …o wee… die spinnekophart van ‘n vrou ….
Op die foto is Michelle du Plessis van Centurion en haar draadhoender wat die hele wêreld saam met haar rond toer. Ek kry dit op www.Beeld.com se lekker rubriek “My Storie”. Michelle het die hoender, “Chicken” in Centurion gekoop toe sy vir haar onderhoud gegaan het om op ‘n luukse-boot oorsee te gaan werk. Van toe af is hulle onafskeidbaar. “Chicken” sal jy altyd in haar handbagasie kry.
Die beskeie hoendertjie was al oral. In die hele Suid-Afrika, Kanada, Los Angeles, Miami, Fort Lauderdale, San Diego, San Fransisco, Hawaii, Bora-Bora, Tahiti, Fiji, Australië, Nieu Seeland, Pago, Somao, Gwam-eilande, Yap-eilande, die hele Meksiko, Guatemala, Panama, Bahamas, Barbados, Karibiese Eilande, Peru, Ecaudor, Kuba, Venezuela, Colombia, Costa Rica, Japan, Hong Kong, en nog vele meer.
Elke plek wat hulle besoek het, het gesorg vir ‘n foto of tien vir bewys, skryf dié mooi nooi op Beeld.com. Gelukkige hoendertjie!
Hierbo het ek teddiebeertjies in die kategorie geplaas van n “trooskombersie” vir ‘n kind. Wag ‘n bietjie. Heelparty grootmense, soos die skone Dezi (Elma Postma van ‘n Boer soek ‘n vrou), erken sonder skroom dat hulle steeds saans iets sags (soos n teddiebeertjie uit die kleintyd) bed toe vat. Gelukkige teddiebeertjie!
My eie “trooskombersies” behels nogal ‘n bonte versameling. Ek raak maklik geheg aan allerlei wat vir ander waardeloos kan voorkom. Snags geniet ek byvoorbeeld my drinkwater uit ‘n emalje-koffiebekertjie wat beter dae geken het. Dit was ‘n speelse geskenkie by my laaste einde-van-die-jaar-partytjie by Naspers in 1997. Wonder wie van die ander kollegas nog hul bekertjies het, maar vir my proe water uit geen ander houer presies so verfrissend nie.
Twee kieries lê na aan my hart., Die eerste is van swarthout. My seun, Johan, het dit vir my laat maak met die eerste geldjies wat hy verdien het as koerantseuntjie van Die Volksblad in Bloemfontein. Ek was verras en ingenome. Vandag is die kierie vol merke, soos dit onder meer al deur honde op die strand bygekom is, maar dit bly ‘n spesiale HvD-besitting.
Kierie nommer twee staan in Sabiepark – ‘n meesterstuk van inheemse Transvaalse kiaat met ‘n bielie van ‘n vlakvarktand as handvatsel. Dit was ‘n geskenk van my kollega Jan Scholtz, ‘n vakman soos min wat met hout kan toor.
Op Sabiepark is ek en my Jan Scholtz-kierie ‘n onskeibare tweemanskap. Maar daardie kiaat-kierie het my groot laat skrik op ons eerste kuier nadat dit in my lewe gekom het.
Ek en Tokkie stap piekniekplek toe. Op pad tref dit my soos ‘n donderslag: “Waar’s my kierie dan?” Ek het hom nie by die huis gesien nie, en nee, my vrou weet ook nie. Met elke tree styg die ongelukkigheid. Later is in my gemoed geen twyfel meer nie: my geliefkoosde kierie is gesteel.
Dalk vir muti? Renosterhoring verskaf glo net die regte doepa vir ‘n kwynende libido. Daardie aanspraak is nie onbekend nie. Waarom dan nie ook vlakvarktand nie? Die potensiële gebruike van vlakvarktand eskaleer met elke tree wat ons loop.
By die piekniekplek bereik die spanning breekpunt. Ek moet dadelik gaan soek. Nou drafstap ek. Tokkie bly al hoe verder agter. Sy protesteer en hyg en sweet. Oor my skouer roep ek net na haar toe: “Jy kan by die huis in die swembad spring.” Ek bars behoorlik by die deur in. Soek agter die boekrak, skuif die kas met glase weg. Kyk selfs in die dak op.
In die kamerkas pluk Tokkie haar klere opsy. Veilig in die hoekie staan die kierie. Ons het klaarblyklik die vorige vakansie besef so ‘n waardevolle kierie moet deeglik weggesteek word. Toe steek ons dit amper te deeglik weg! Die geheues is ook nie meer wat dit was nie.
Na die hereniging laat ek my lippe so vee-vee oor die blinkgladde vlakvarktand. Tokkie wil ewe opportunisties weet of ek net so uit my vel sou wees as dit sy was wat weg was en weer gevind is. Volgende vraag!
Comments