top of page
  • Uitmelkbos

TRETCHIKOFF – KONING VAN ADJEKTIEF

Vladimir Ttretchikoff, sogenaamde “Koning van kitsch”, was as kunstenaar geliefd by die publiek en ongereken by kunsresensente. Ek onthou hom ook as die koning van die byvoeglike naamwoord. Hy kon die adjektiewe inryg soos aan ‘n sosatiestokkie.

As iets nie “fantasties” of “geweldig” was nie, was dit “vreeslik”. “Fantasties” het ek tydens ‘n onderhoud vir my rubriek “Onder Vier Oë in Beeld in die jare 70 ‘n stuk of ‘n dosyn kere getel; toe word ek moeg van boekhou.

Hy was ook lief om met ‘n dubbelloop te skiet. Hou Afrikaanssprekendes besonder van sy werk, sou jy hom byvoorbeeld vra. “Geweldig,” sou Tretchi antwoord. “Dis fantasties, fantasties!”

Ek het hom oor sy gevoel jeens kunskritici gepols. Tretchi het sy arms teatraal in die lug gegooi. Toe sak hy terug in sy stoel en gryp sy kop vas. “Kunskritici? Wie de duiwel is die kunskritici? Krap aan die oppervlak en wat kry jy? ‘n Verydelde kunstenaar!”

Dit was so ongeveer sy geloofsbelydenis. Kritici het hom afgekraak as ‘n prul-kunstenaar, ‘n goeie verkoopman wat die massas met goedkoop sentimentaliteit verlei. Maar hy het geglo: “Dit is nie my kuns wat hulle kritiseer nie, dit is my sukses.”

Met ‘n meewarige laggie. “Jy weet, toe ek nog gesukkel het, was die kritici tevrede met my werk. Toe ek begin geld maak, toe’s dit skielik nikswerd.”Nie dat dit eintlik saak gemaak het nie, as jy Tretchi kon glo. “Dit maak my nie seer nie en dit maak nie my sukses seer nie.” Die Chinese meisie – bekend as die Mona Lisa van kitsch – is “beroemder as Tretchikoff,” het hy gemaak verontwaardig bygevoeg. Dan het sy oë geskitter van trots.

Buiten die Chinese meisie was immergroen gunstelinge onder meer die Verlore orgidee, die Sterwende swaan, die Wenende roos, onthou u? Hulle is almal lank na sy dood nog springlewendig. Trouens, sedert die millenium begin die pryse eers klim! In Amerika, Kanada, Brittanje, Australië, die Verre Ooste … selfs Ciprus – die mense hou net nie op om te koop nie.

Die Chinese meisie dateer uit 1952 en het een van die bekendste kunsreproduksies van die twintigste eeu geword.[ Die skildery vertoon ‘n Chinese meisie met ‘n ongewone blougroen veltoon, wat die skildery die bynaam The Green Lady gegee het. Die oorspronklike is op 20 Maart 2013 by Bonhams-veilinghuis in Londen vir byna $3.5 miljoen (Amerikaanse dollar, nie rand nie) verkoop. Dit is deur die Britse juwelier Laurence Graff opgeraap.

Selfs in Suid-Afrika het versamelaars groot geld vir Tretchi-werke uitgehaal. Op 27 Mei 2008 het sy Vrugte van Bali op ‘n veiling in Kaapstad ‘n (destydse) rekordprys (vir hom) van R3,74 miljoen behaal. Tretchi het daarmee o.m. stof in Irma Stern se oë geskop. Haar Kaapstad se hawe (vooraf die groot trekpleister) is vir (net!) R2,2 miljoen van die hand gesit.

Vyf ander werke van Tretchi het saam R1,452 miljoen opgelewer. Beleggers in kunswerk was geskok en die afslaer het die prys vir Vrugte van Bali as “ongelooflik” bestempel.

Buiten die kritici was daar nog iets wat Tretchi gekwel het: die persepsie dat hy – hy was toe “iets in die sestig” – jong meisietjies ateljee toe jaag en hulle so vinnig moontlik uit hul klere kry om hulle te skilder. “Soos ‘n seksmaniak,” het Tretchi gekla.

Die waarheid, volgens hom, was dat hy in 20, 25 jaar net vier halfnaakte meisies geskilder het. Die boodskap van een van daardie skilderye is: “Jy mag nie egbreek nie.” Die meisie – ‘n Afrikaanse nooi, Brenda, met ‘n “pragtige figuur” – wek die indruk dat sy aan die verbode vrug lê en dink, of dit dalk pas klaar gepluk het, aldus Tretchi.Soos die man geskilder het, het hy gepraat. Soos hy gepraat en geskilder het, so was die man.

Flambojant en emosioneel. Geen ander woorde kan hom beter beskryf nie. Vladimir Tretchikoff is op 26/8/2006 oorlede

4 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

bottom of page