Geen maar geen ander populêre musiek laat my vingers só trommel, my nek só saamwieg en my voete só jeuk soos die musiek van die jare 50 nie. In ‘n vlaag van nostalgie het ek pas weer my CD-rakke getakel en die een ná die ander treffer van die 50’s deur die woonkamer laat spoel – salig!
Daardie musiek het ‘n energie en entoesiasme wat jou bloed ses dekades later steeds laat tintel. Die lirieke is sinryk, nie sommer ‘n niksseggende opstapeling van klankgrepe nie. Ek was verras oor hoeveel liedjies ek, wat nie juis ‘n musiek-mens is nie darem nog op ‘n manier kon saamsing – al is dit net hier en daar ‘n stukkie.
Ek is bevooroordeeld oor die 50’s, laat ek maar erken. Vir eers het plate die eerste keer in ons huis gekom toe my weduweema, Baby, vroeg in 1950 met Pa Tony Malan van Durban getroud is. In sy bagasie was onder meer ‘n stapel Patti Page-plate met immergroen-wysies, soos ‘The Tennessee Waltz’, ‘Changing Partners’ en die vrolike ‘Mockin’ Bird Hill’:
“Tra la la, tweedle dee dee dee
It gives me a thrill,
To wake up in the morning
To the mockin’ bird’s trill.
Tra la la tweedle dee dee dee
There’s peace and good will;
You’re welcome as the flowers
On Mockin’ Bird Hill.”
Pa Malan het ook ‘n Nat King Cole-opname van ‘Mona Lisa’ in die huis gebring. Na aanleiding daarvan het ek in die biblioteek die beroemde skildery gaan soek. Ek was nie teleurgesteld met daardie ‘mystic smile’ waaroor Nat sing nie.
‘n Musiek-irritasie van daardie tyd was die Weavers se heruitgawe van die Amerikaanse volksliedjie ‘Goodnight Irene’ wat in 1950 tot nommer een op die treffersparade geklim het. Ons het naamlik ná die huwelik tydelik in die Private Hotel Albert, naby die Albertpark in Durban, tuisgegaan. Die eienaars het ‘Goodnight Irene’ nooit van die draaitafel gehaal nie. Die woorde en wysie het later by jou ore uitgeloop.
In die koshuis Jack Pauw by Potch-Volkies het ek LM Radio leer ken. Sondagaande was die ‘Hit Parade’ uit Lourenco Marques absolute luistergenot, wanneer dit moontlik was. Een tweestryd vir die top-posisie wat ek goed onthou was tussen Doris Day se ‘Que Sera Sera’ (‘Whatever Will Be, Will Be’) en Perry Como se ‘More’.
Al was Doris bitter oulik was ek ‘n ‘More’-man. Ek dink egter ‘Que Sera’ het daardie wedloop van die treffers net-net gewen.
In my matriekjaar, 1957, was Elvis Presley die man van die oomblik, met Pat Boone darem ook in die prentjie. Die voorste liedjies daardie jaar was ‘Jailhouse Rock’ (Elvis Presley), ‘I’m All Shook Up’ (Elvis Presley), ‘See You Later, Alligator’ (Bill Haley en sy Comets), ‘Sail along, silvery moon’ (Billy Vaughn), ‘True Love’ (Bing Crosby en Grace Kelly, later ook Elvis), ‘Banana Boat Song’ (Harry Belafonte),’ Love Letters In The Sand’ (Pat Boone), ‘When I Fall In Love’ (Nat King Cole).) – wat ‘n droom-oes!
In die matriekeksamen het ‘n paar van ons uit die koshuis ge-‘slip’ en gaan fliek: Bill Haley em sy Comets se ‘Rock Around The Clock’. Ons is uitgevang en het slae gekry. Die dag nadat die laaste vak, Geskiedenis, geskryf is, het van ons ons meisies vir oulaas saamgevat na Debby Reynolds se ‘Tammy And The Bachelor’. Ek het smoorverlief geraak op me. Reynolds (nou 77), en die liedjie ‘Tammy’ was lank diep in my hart.
Met my eerste twee jaar in Kollegetehuis op Tukkies, 1958 en 1959, is die 50’s afgesluit. Van die liedjies wat in daardie tyd oorheers het op die draaitafel in die “gesellie” was onder meer die Kingston Trio se ‘Tom Dooley’, die treurige verhaal van ‘n dodelike liefdesdriehoek, The Platters se ‘Smoke Gets In Your Eyes’, en The Browns se ’Three Bells’ (bekend gemaak deur Edith Piaff as ‘Les Trois Cloches’).
Ek vind dit amper ongelooflik dat die volgende gunstelinge van die 50’s tot dusver nog nêrens deur my vermeld is in hierdie stuk nie, en haas my om die afskeepwerk reg te stel:
‘April Love’ (Pat Boone), ‘Magic Moments’ (Perry Como), ‘Memories Are Made Of This’ (Dean Martin), ‘Young Love’ (Tab Hunter), ‘Oh Mein Papa’ (Eddie Calvert), Yellow Rose Of Texas’ (Mitch Miller), ‘I Believe’ (Frankie Laine), ‘The Green Door’ (Jim Lowe) en ‘High Noon’ of ‘Do Not Forsake Me’ (Tex Ritter).
O jinne, dan vergeet ek onvergeetlike rolprentmkusiek soos die ‘Harry Lime’-tema uit ‘The Third Man’ en ‘Unchained Melody” uit ‘Unchained’. Die aanbod van die jare 50 is eenvoudig te oorweldigend!
Comments