top of page
  • Uitmelkbos

Tradisie van die springbokkop

In sy boek Ek Speel vir Suid-Afrika gee Danie Craven ‘n pakkende relaas van die 1931-Springbokspan se eerste nederlaag van 30 – 21 teen die Middellandse Graafskappe op Leicester.

Oor die tonele na die eindfluitjie skryf hy: ” Binne ‘n sekonde is al wat mens is op die veld. George Beamish, die kranige kaptein (van die Graafskappe) word van die veld af gedra. Met betraande oe verdwyn ons skuldig en skugter russen die mensestroom deur wat net oe vir hul eie spelers het.

“Aanhoudend en ge-inspireerd is die toejuiging wat in golwe hemelwaarts trek. Die mense drom eindelik voor die kleedkamer saam. Oom Theo (Pienaar) verskyn met die springbokkop en oorhandig dit aan Beamish. Molly Lamont, ons rolprent-aktrise, en Cynthia Moore, ‘n Suid-Afrikaanse student, bars in trane uit en ons byt op ons tande om die knop in ons keel baas te raak.

” Vir oulaas sien ons die springbokkop wat treurend na ons kyk en toe vir altyd uit die gesig verdwyn.”

Die tradisie van die springbokkop kom ook ter sprake in Hennie Muller se boek Vaarwel aan toetsrugby. Daardie kop het nooit enige wedstryd gemis het nie en het onafskeidbaar deel van elke span geword. By elke wedstryd is iemand anders aangestel om die kop “met sy lewe” te bewaak.

Gewoonlik is ‘n groot tedoe van só ‘n geleentheid gemaak wanneer die Bokke húl eerste wedstryd verloor het en die springbok-kop ”afgestaan” is. Dit was ‘n groot eer vir die wenspan ‘n bok-kop te ontvang en ‘n sware dag vir die Bokke

Muller beskryf die einde van die wedstryd op Twickenham op 10 November 1951 wat die Bokke met 11-9 teen die Londense Graafskappe verloor het, soos volg: “Drie minute … twee… een …en toe die eindfluitjie. Johan Matthews (kaptein van die Graafskappe), wat uitasem was, het sy arm om my geslaan. ‘Nog net ‘n minuut langer en ons sou almal ineengestort het,’ het hy gese.

“Ons het ons oorwinnaars van die veld gedra (let op die sportmangees – HvD) en as teken van ons neerlaag het ek die springbokkop aan Matthews oorhandig.”

Ekself onthou hoe ek as tienjarige die laaste minute van daardie verloorwedstryd eenvoudig nie kon verduur nie. Ek het voor die radio opgespring en soos ‘n afkophoender om en om ons huis in Botanic Grove, Durban, gehardloop. Toe die eindfluitjie blaas, was ek in trane.

Daardie groot Vrystaatse rugbygees Frikkie van Rensburg vertel hy onthou goed watter ”begrafnis-stemming” na daardie nederlaag in hul huis geheers het. Die Van Rensburg-gesin het net daarna vir Frikkie se oom Hermann op sy plaas Kalkfontein by Munnik in die distrik Pietersburg gaan kuier. Dié aand van die verdriet vroeër dié dag op Twickenham is ‘n bekende man op Pietersburg, Willie Roos, ná ‘n hartaanval oorlede.

Frikkie se oom-hulle was groot vriende met dié Oom Roos, en hy onthou die hele gemeenskap was geskok oor sy dood ná dié nederlaag.

Net só was die Bokke se eerste nederlaag op die 1956-toer van Basie Vivier-hulle teen Waikato in Hamilton op 9/6/1956 ‘n “nasionale ramp”. Net mooi 37 jaar later het Frikkie met “oom Basie” Vivier oor hierdie wedstryd, dáárdie toer, sy lewe – vir ‘n artikel gesels. Vivier het met ‘n baie seer hart vertel watter gedempte atmosfeer in die Bok-kamp geheers het toe die simboliese springbok-kop oorhandig is.

Watter hartroerende emosie van mense vir wie die Springbok amper heilig was! Hierdie 67-jarige kry hoendervel as hy so in die geskiedenis van Springbokrugby teruglees. En dan raak hy sommer opnuut die d….. in vir daardie Luke “Puke” Watson-mannetjie.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page