top of page
  • Uitmelkbos

TOT SIENS, OU GROTES!


Olifante in die water; buffels langs die rivier – die twee ou grotes van die Groot Vyf sorg altyd só saam-saam vir ‘n mooi toneel.

Die laaste dag van ons wintervakansie in Sabiepark is ons vir oulaas piekniekplek toe. Almal by hul vuurtjies het hul braaitange neergesit, en kyk, verkyker voor die oë, na die donker lywe langs die Sabie.

Weliswaar was ons ietwat laat vir die groot verbytog van die buffels, maar ons was tog betyds om die kamera uit te pluk.

Die gewese veldwagter Lynn van Rooyen vertel in sy boekie met ‘n olifantnaam wat my nou ontgaan, van sy laaste dag in die Wildtuin. Die bedrywigheid van Olifante langs die Sabierivier het ‘n kollega laat opmerk: “Lynn, hulle kom groet jou.”

Só romantiseer ons mos maar almal die natuur. Wat aan die einde van die vakansie – en veral op die laaste dag – gebeur sien ons graag, in menslike terme, as ‘n persoonlike afskeid.

Ek onthou ‘n keer toe ek en Tokkie net wou ry lughawe toe. Op daardie oomblik gewaar ons “ons” duikertjie Witnek, ook al saliger, by die watergat. Ons het skuldig gevoel om hom alleen aan sy lot oor te laat. “Gee vir hom maar een van my eiertoebroodjies,” het ek Tokkie gebied.

Iemand wat my voorliefde vir eierbroodjies ken, sal weet hoe groot ‘n opoffering dit was!

‘n Keer skud ons vriend Manie Steyn blad om te ry. ‘n Visarend swiep oor Tarlehoet en roep sy klokhelder roep. Ek kon sweer ek hoor “Tot siens, tot siens …”

Toe Eric en Sannie Wiese van die Kaap by die voordeur uitstap, staan ‘n paar sebras rustig by die watergat hul dors en les. “Wat ‘n afskeid,” sê Sannie.

Natuurlik sou die olifante en buffels dieselfde gewaarwording skep. Dis ‘n afskeid. Spesiaal vir die bevoorregte Van Deventers.

“Gegroet is julle ook, julle ou grotes. Tot siens maar nie vaarwel”.

Naskrif: As ek terugdink aan die wintervakansie is die vreemde dalinge van die kwik in die termometer op die stoep nogal ‘n prominente herinnering. Was dit die koudste winter nog in die Laeveld? Ek dink so. Maar eintlik staan die luiperdvangs langs Maroelaan uit (blog, Bloed op die stoeptrappies, 1 Augustus). ‘n Dag voor ons vertrek het ek ook in Jakkalsbessie vlugtig ‘n luiperd gesien. Twee luiperds in Sabiepark in een vakansie? Dit was ‘n eerste.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page