top of page
  • Uitmelkbos

TOT SIENS, KLEIN SEBRA’TJIE

‘n Klein sebra’tjie is bra lomp. Hy loop aarselend nes ‘n baba wat sy eerste tree gee met ‘n te groot doek aan, sê my vrou Tokkie. Die kleintjie op die foto – nog wankelrig op sy knopknieë en met net bruin dons op sy kruis – het op die werf van ons bosplek, Tarlehoet in Sabiepark, nogal pikant met die groot nuwe wêreld daarbuite kennis gemaak.

Die snaakse tweebeen-wesens op die stoep is eers stip bekyk terwyl sy ma, duidelik ongemaklik en op haar hoede, haar stert ritmies heen en weer swaai. Elke keer kry die arme kleinding, styf teen haar, toe ‘n veeg deur die gesig!

Toe hy waag om effens af te dwaal, was die swart Weberbraaier en die plaveisel in die lapa ‘n heerlike ontdekking. Jy kon sien hoe uit die veld geslaan hy was as hy so kloppetie-klop op die harde steenoppervlak trap. Sy beeld in die braaier se blink deksel het hom, klaarblyklik, selfs nog meer behaag en verwonder. Hy het dit, skewekop, uit alle hoeke deurvorsend betrag.

Maar die braaier was nog nie die einde van daardie dag se ryk oes nuwe ervarings nie. ‘n Klompie tarentale wat kom pitjies soek het, het vervolgens sy aandag getrek. Hy jaag hulle toe kamma sulke klein entjies en hap-hap na hulle asof hy een wil vang – nes ‘n spelerige klein katjie.

‘n Paar dae later het dieselfde troppie sebras ons weer opgesoek – amper skoorvoetend, het ons later besluit. Donsruggie se afwesigheid het, soos ‘n seer duim, uitgestaan.

Skielik het ons onthou hoe ontsteld die sebras die vorige nag gebalk het. En in ons harte het ons geweet: ons outjie sou nooit weer sy beeld op ‘n Weber se deksel sien of ‘n tarentaal jaag nie. Hy was nou deel van die ontstellende Wildtuin-statistieke dat tussen 60 en 80 persent nie hul eerste jaar oorleef nie.

Luiperds moet ook eet…..

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page