‘n Vriend begin moeisaam oppak om sy huis vir ‘n woonstel te verruil. Hy loop die paadjie wat vele ander voor hom moes stap en vele ná hom nog sal moet stap. Dis ‘n eensame, harde paadjie wat veral op die terrein van emosies pynlike eise stel.
Hy beleef dit ekstra swaar, want in sy huis is ‘n duisternis versamelaarstukke, skilderye, foto’s, sertifikate, boeke, tydskrifte en wat nog van enorme sentimentele en historiese waarde wat hy en sy vrou van langer as ‘n halfeeu byeengebring het. Die huis is ‘n “museum van hul lewe” wat hy nou tot niet moet maak.
Ook die materiële waarde van baie hartsgoed waarvan hy moet afskeid neem, is nie te versmaai nie. In hierdie stadium van sy lewe waar hy alleen hierdie steil bult moet klim – sy vrou is vroeër vanjaar skielik oorlede – is materiële waarde egter sekondêr.
Wat wel dreig om hom onder te kry, is sy opgeskeeptheid met soveel wat deur sy lewe aan dié gelukkige egpaar hul identiteit gegee het.
Die ergste is dat hy werklik nie herwaarts of derwaarts weet met daardie “erfgoedere” wat normaalweg via die takke van die familieboom na volgende generasies versprei word nie. In Suid-Afrika is geen kinders of kleinkinders meer nie. Om oor die water te begin uitdeel, is nie ‘n haalbare opsie nie.
“Ai,” sê hy hulpeloos en kopskuddend, “hier hang Oupa en my oupa se oupa. Wat tog moet van my goed word?’ Hy lag maar dis nie ‘n opgeruimde lag nie. Hy vra daardie vraag nie soos iemand wat ‘n antwoord verwag nie. Hy weet jy weet nog minder. Hy weet jy sien in hom en sy penarie ‘n prototipe van jouself. “There for the grace of God goes I.”
Ek kyk ongemaklik om my rond in my eie huis, en ek begin ook ys oor die swaar dae wat sal aanbreek as ‘n laaste aardse verhuising onvermydelik sou word, hetsy saam of alleen (tog net nie dit nie!). In my geval is daar kinders wat hulle ten minste dan vir tydelike troos kan ontferm oor dinge wat die gryse ou vader en moeder na aan die hart lê. Maar wat sal werklik iets vir hulle beteken en wat nie?
Op die foto hierbo is ‘n lokomotief-fluit gemonteer op ‘n swaar stuk spoorstut, ‘n “sleeper” van duursame hout uit die ou Rhodesië. Dis ‘n geskenk van die joviale Johan Uys wat twee dekades gelede Spoorwegbaas in Bloemfontein was. Ek heg daaraan groot waarde. Dit word uitgestal op ‘n stewige hout-muurrak (vervaardig deur die knap Dick Turpin van Melkbos) onder meer saam met ‘n replika van die Hennie van Deventer-trofee uit stinkhout waarom knap jong redaksielede by my ou koerant, Die Volksblad (nou net Volksblad), meeding. Dié beeldjie deur Laura Rautenbach is in die vorm van ‘n opgerolde koerant.
Tokkie besef die Johan Uys-geskenk is deel van my “hartsgoed”. Sy sien toe dat die koper mooi blink en dat die skurwe hout nie ‘n versamelplek van stof en ander onsuiwerhede in die lug word nie.
Vir my is die lokomotief-fluit ‘n soewenier van ‘n gawe vriendskap in ‘n goue era in Bloemfontein. Dit is ook ‘n simbool van vergange tye. Ek dink almal behoort die waarde te besef en dit te begeer. Maar dit is eintlik die ontnugterende: mense het geen benul wat dit is nie. ‘n Jong moeder is dronkgeslaan. ‘n Malawiese jong man, algemene nuts- en tuinman in ons buurt, lag net oor die snaakse ding. ‘n Tydgenoot kom die naaste: “Iets met ‘n trein te doen raai ek.”
Baie goed wat vir mense waardevol was, beland op die ashoop. Gaan my fluit op ‘n ashoop beland, ongereken en deur almal misken, soos Doris Brasch se lappop? Gaan iemand, soos ’n Tokkie, die koper laat poets ?
Ek wil nie nou al lysies begin maak wat waarheen moet/sal/kan gaan nie, en die dinge waarmee ek nie raad weet nie. Dit sou prematuur wees.
Of sou dit?
Comments