top of page
  • Uitmelkbos

TOT SIENS BY DIE BRAAI, OU FICKIE!


Wyle Fickie Visagie en die luiperd op sy stoep – maar darem nie saam afgeneem nie! Dat ek nooit weer saam met Fickie Visagie om ‘n vleisbraaivuurtjie in Sabiepark sal sit nie, is ‘n vreemde, amper onwerklike wete. Goed, Fickie was al 83 toe ‘n aggressiewe leukemie hom beetgekry het, maar in my oë was dié goeie vriend onverwoesbaar soos ‘n ou Datsun-enjin, aldus vanmelewe se TV-advertensie.


Hy was immers al heelwat oor 80 toe hy ‘n lewensdroom verwesenlik het om Serengeti te besoek. Oor die indrukwekkende migrasie van blouwildebeeste wat hy en sy vrou, André, daar beleef het, kon hy nie uitgepraat raak nie.


Fickie Visagie was ‘n natuurkind by uitstek. Dat in Sabiepark ongewone wild-ervarings hom te beurt geval het, soos ‘n luiperd-besoek op sy voorstoep en ‘n seekoei wat oor die hele breedte van die park stap om in sy watergat sy dors te kom les, was wat die Engelse noem “poetic justice” het ek altyd gedink, omdat hy so weergaloos entoesiasties, met stralende oë, oor sulke episodes kon vertel.


Fickie se kinders het hom in sy begrafniskennisgewing ‘n “oop” kop genoem – ‘n pluimpie wat ek dan sommer by verstek vir myself ook toe-eien. Want ek en Fickie het omtrent oor alles onder die son hartroerend saamgestem as hy so aan sy Skotse watertjie en ek aan my wit wyntjie teug terwyl die Vrystaatse boerewors en tjoppies op die Bosveldkole perfek gaar word – van die politiek tot sport, wat nogal twee omstrede onderwerpe kan raak.


En dit was nie met ‘n ja-broer-gesindheid nie. Ons het immers albei Hondas gery en na sy dood hoor ek toe sy keuse vir begrafnismusiek sluit ook Dvôrak se Nuwe Wêreldsimfonie in – ‘n Walliese kooropname van die onoortreflike Negerlied Going Home.


Een van my standpunte wat hom ietwat ergerlik gestem het, was oor Sabiepark se aansienlike hiënabevolking wat uitdagend en astrant ‘n vleisie op jou rooster sal kom aas as jy nie oppas nie. Vir my spel hulle gevaar, veral vir kinders, en daarom pleit ek gereeld vir uitdunning en goeie kontrole.


Fickie het gemeen dis hiënas se goeie reg om te kom en gaan soos hulle wil. As jy die slagoffer van ‘n wilde dier in Sabiepark sou wees, sou dit in ieder geval ‘n veel verkiesliker manier wees om te gaan as om deur kapers, rowers en dies meer platgeskiet te word. Hierdie standpunt som Fickie se lewensfilosofie heel netjies op, en ons het darem ook nie te kwaai daaroor gestry nie – liewer nog ‘n laaste enetjie geskink voordat die vleis van die kole kom.


My oorvloedigste dankbaarheid teenoor Fickie het juis met Sabiepark te doen. Twintig jaar gelede al het die Van Deventers dié salige Bosveldse paradys aan die Sabierivier ontdek. Ons was, op pad Nasionale Krugerwildtuin toe, hier op sy drumpel dankbare gaste in mede-Bloemfonteiners Fickie en André se boshuis.


Toe ons aand van 1 Julie 1988 onder die helder sterre soek-soek by nommer 97 uitkom, net mooi daar waar Maroela en Wildevy mekaar ontmoet, kry ons slapende sebras en impalas wat in die motorligte laat spat. Ons het ons verwonder aan die lewe op die werf – selfs as dit nag geword het.


Op 3 Julie sit ons die reis voort, deur die Krugerhek na Skukuza en daarna noordwaarts na Satara en Olifants. Net voordat ons ry, pen ek en Tokkie die volgende spanpoging tussen die foto’s en allerlei pennevrugte in die Visagies se gesellige Sabiepark-dagboek neer:


“Dit was ‘n fees!


“Sebras en rooibokke het ‘n verwelkomingskomitee gevorm wat ons ingewag het. Daarna het ‘n nuuskierige gesinnetjie vlakvarke, ‘n eensame blouwildebees, ‘n huppelende troppie rooibokkies en ‘n duikertjie kom dagsê.


“‘n Kameelperd het ook gekom, maar toe was ons nie tuis nie. Sy spore was tot teenaan die stoep. Hy het blykbaar ook aan die groot boom op die stoep staan en peusel.


“Besoekers met skynbaar minder vreedsame intensies was ‘n regiment gebande muishonde wat die huis kompleet omsingel het. Die generaal het gedurig bevele gegee en sy manskappe in onheilspellende slagordes opgestel. Toe hulle sien dat ons nie gaan wyk nie, het hulle net so skielik padgegee as wat hulle gekom het.


“‘n Houtkapper het ‘n boodskap in Morsekode gebring. Ongelukkig kon ons dit nie ontsyfer nie.


“Die buffels (wat toe nog nie verban was nie – HvD) het nie kom kuier nie, maar ons het hulle wel raakgeloop waar hulle met verwondering en intense konsentrasie ‘n tenniswedstryd staan en dophou. Geen wonder nie, want dit was mos Wimbledon-naweek.


“Dankie vir ‘n heerlike blaaskansie in jul Bosveldparadys. (H en T)”


Min het ons kon droom ons sou ‘n dekade later terugkeer; hierdie keer met die kaart en transport van ‘n eie tuiste in die bos in die sak.


Vandag is ek verleë oor daardie 1988-kuier . Nou weet ek ‘n huis in Sabiepark staan nie sommer reg vir kuiergaste om net in te trek nie. ‘n Groot operasie skoonmaak is nodig. Gas moet gekoppel word. Yskaste word aangesteek. Soms word selfs geskoffel.


Nou gaan Fickie langboompies toe sonder dat ek ooit my skuld vereffen het!


* Fickie Visagie is op 19 Februarie oorlede.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page