top of page
  • Izak de Vries

Toorberg, Wikkelspies en die “classics”

Niemand het die verwysing na Toorberg aangegryp nie. Nou sal ek maar die vrae vra. Die boek is steeds op sommige voorgeskrewe lyste.

Nou is die vraag: Moet kinders op skool al bekendgestel word aan die klassieke werke in ’n letterkunde, of moet ons vir hulle ’n liefde gee vir lees?

Anders gestel: Moet hulle Breinbliksem of Toorberg lees? Zita of Die uurwerk kantel? Moet die Engelse kinders Romeo and Juliet doen, of Strange Nervous Laughter van Bridget NcNulty? (Sien my resensie van laasgenoemde as julle dit nog nie gelees het nie.) Things fall apart, of Praise Routine number 4? (Laasgenoemde, van Michael Rands is heerlik, en hartseer. Ek gaan dit binnekort resenseer.)

McNulty en Rands is kontemporêre, Suid-Afrikaanse skrywers, soos ook Fanie Viljoen en Anzil Kulsen. Gaan loer ’n bietjie op Fanie se blog hoe kontemporêr sy Onderwêreld is.

My Engels-onnies in Pietermaritzburg het my leer Engels praat en skryf (gelukkig, want ek werk deesdae in Engels) en hulle het ons lief gemaak vir lees. Jeffrey Archer was op die spyskaart, nie Shakespeare nie.

En weet julle wat? Ek lees en kyk graag Shakespeare. Hoekom? Ek is lief vir lees. Dis hoekom.

Ek het Toorberg al in standerd sewe gelees (op my eie, nie as voorgeskrewe boek nie). En ek het dit geniet. Heelwat van my vriende het dit ook gelees en geniet. Dit kán dus op daardie ouderdom reeds tot jongmense spreek.

Maar is dit ’n skool se plig om kinders die oertekste te leer? Op universiteit moet mense die klassieke tekste lees, ja. Maar op skool?

Hier is mý antwoord. Ek dink daar is ruimte vir albei. Kinders wat oor die algemeen nie lief is vir lees nie, sal Toorberg nie geniet nie. Gee dan liewer vir hulle iets soos Deon Meyer (enige een). Toorberg, soos enige van Meyer se werke, is ’n speurverhaal. Maar, Toorberg is ook ’n literêre verhaal. Vir die sterk kinders moet ons Meyer én Toorberg doen. Net soos die sterker klasse Eugene Marais én Loftus Marais se gedigte moet lees. (Loftus gebruik sommer woorde soos kak in sy gedigte, iets wat die verfynde Eugene nie sou doen nie ;-)

“Die Engelman” (uit Byna Liefde) is byvoorbeeld hierdie jaar een van die voorgeskrewe verhale in matriek. Ek is bly daaroor, maar ek dink dit sal bitter jammer wees as sterker kinders nie ook aan Jan Rabie se kortverhale, of meester Abraham s’n, blootgestel word nie. En wat van Riana Scheepers? Sy is een van die klassieke stemme in ons letterkunde. Rachelle Greeff? Wie nog?

Wat dink julle?

Terloops: The Tempest speel tans in die Baxter. Anthony Sher en John Kani speel daarin. Bliksem, mense, wie beter? Van Kaapstad af vlieg hulle na die Royal Shakespeare Company se Courtyard Theatre in Statford-upon-Avon vir die begin van hulle toer deur Engeland.

En As you like it wys in Maynardville se opelugteater.

Ek wil albei gaan sien. Wie kom saam?

Soos die Kombi, wat sestigsmusiek speel, vir die Jeep sê, in Cars: “Respect the classics, man!”

4 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page