“Liefling”-koors is los in die land. Mense ruk op flieks toe in lang toue. Die Afrikaanse media trippel opgewonde oor al die glansmense met romantiese nuwe identiteite oor wie hulle kan oe en aa. Debatte is aan die orde oor die meriete van “ons eie” musiekfliek – onder resensente (twee tot vier sterre) en onder gewone fliekkykers (bekoor en onbekoor).
Die uwe kry hier op Melkbos heelwat pos oor my afwysende kommentaar op ‘n blog wat intussen deur Litnet aan ‘n groter gehoor as my gewone bekendgestel is. Nie alles is bewonderaarspos nie. Koes, kêrel! Maar alles is, genadiglik, ook darem nie uit die verontwaardigde “Los-Liefling-uit”-kamp nie.
Een van die tienduisende wat skynbaar deur “Liefling” bekoor is, Johann, verwyt my in ‘n private e-pos dat ek met die ingesteldheid van ‘n resensent die fliek beoordeel. Dankie, Johann, vir die opmerking wat my aan die dink gesit het. Het jy dalk gelyk? Het ek inderdaad na “Liefling” gaan kyk deur ‘n ander bril as my gewone ene van hou-daarvan of hou-nie-daarvan nie?
Nee, daaroor moet ek dadelik versklil. As ‘n fliek-fynproewer bied ek my allermins aan, en oor die moets en moenies van ‘n hoogstaande fliek uit die verhewe hoek van ‘n kenner van die medium is ek doodgewoon dom. Die terminologie van resensente wat hul storie ken, klink soms vir my soos die een of ander Nguni-dialek.
Ek beoordeel ‘n fliek, soos ‘n boek of ‘n opvoering in die teater, of wat ookal, in die finale instansie net volgens een enkele maatstaf: verskaf dit my plesier of nie? As “Liefling” nie aan my verwagtinge voldoen het nie, is dit dus regtig nie omdat ek gegaan het om dit deskundig (of kwasi-deskundig) volgens ‘n vaste formule te beoordeel nie. Ek gaan na enige fliek om dit (hopelik) te geniet.
Maar hoe reageer ek terwyl ek daar sit? Sit ek stroef of met ‘n glimlag? Is ek begeesterd of teleurgesteld? Is dit ‘n goed-voel-ervaring of loer ek gereeld op die horlosie? Dit is die wesenlike vrae.
En as ek uitstap? Is dit met ‘n ligte tred? Voel ek my tyd is goed bestee? Wens ek ek het maar liewer by die huis gebly en ‘n lekker boek gelees of sommer net ongekweld vir die berg en see sit en kyk?
Jy, Johann, het van “Liefling” gehou; ek, Hennie. het nie. Dit beteken nie dat die een “reg” is en die ander “verkeerd” nie. Dit beteken ook nie dat die een met hierdie ingesteldheid gaan kyk het en die ander met daardie ingesteldheid nie. Al wat dit, na my insigte, beteken, is dat mense nie bloudrukke is nie. Hulle is unieke individue.
Persoonlikhede, smake, ja, ook subjektiwiteite en vooroordele, kan nogal grondig verskil. Oor gewigtige sake. Ook oor ligtere kwessietjies soos of ‘n fliek oulik is of nie. Dit word opnuut deur ons uiteenlopende opinies gedemonstreer.
Een slot-opmerking tot my slotbydrae tot die “debat van die doodgewones”: “Liefling” is verreweg nie net sleg nie. Die resultaat haper egter omdat die resep eenvoudig nie werk nie.
In die media het ons in my tyd gepraat van die “mieks” van ‘n koerant of tydskrif. Net die allerbeste joernaliste kon daardie ongedefiniëerde en ondefiniëerbare “mieks” gereeld regkry. Die “Liefling”-span het in my leke-oë ongelukkig NIE daardie “mieks” reggekry nie. Van sekere bestanddele is te veel ingeroer; van ander te min. Daarom slaag dit nie die tongtippie-toets nie en is my reaksie een van onbehaaglikheid.
Ek bevestig hiermee my toekenning van twee sterre … plus ‘n halwe vir die entoesiasme.
Naskrif: Ek wonder in die stilligheid hoe sou ‘n gesofistikeerde nie-Afrikaanse gehoor in sê maar Europa of Amerika “Liefling” ontvang het.
Comments